Agri SA is oorval me navrae deur landbou-organisasies en die media oor die uitlatings van die Adjunk-minister van Landbou enGrondsake in die Parlement. Die dreigement deur die Adjunk-minister van Landbou en Grondsake, mnr. Dirk du Toit, dat grond onteien sal word (we are going to take their land) om "ongeregverdigde" afsetting van plaasbewoners te midde van 'n beweerde medieval practice which is allowed to continue and continue stop te sit, is met skok en uiterste teleurstelling in landbou-geledere ontvang.
Agri SA se voorsitter, mnr. Lourie Bosman, sy adjunk-voorsitter, mnr. Johannes Möller en voorsitters van sy provinsiale- en bedryfsorganisasies is ontstoke hieroor en is oorval met navrae van grondeienaars sowel as van die plaaslike en internasionale media.
Agri SA sê in 'n nuusverklaring hy beskou Du Toit se uitlatings as 'n voortsetting van kwaadwillige politiekery gemik teen boere en die sektor soos wat dit tans daaruit sien. Dieselfde venyn word nie openbaar wanneer afsettings op ander eiendom, selfs vanaf regeringsgrond, ter sprake is nie. Die reeds onbevredigende veiligheidsomgewing in plaasgemeenskappe het verseker nie hierdie opruiende uitsprake nodig nie, veral inagnemende die beskikbare wetlike meganismes en programme waardeur dié spesifieke behoeftes toereikend hanteer kan word.
Bosman wys daarop dat Agri SA 'n verstandhouding met die Minister van Landbou en Grondsake het dat inligting oor die onwettige afsetting van plaasbewoners uitgeruil sal word en dat die regsproses waar nodig, sy loop moet neem. Wetgewing wat hierdie saak reël is in terme van die Grondwet van Suid-Afrika ontwikkel. Daarom sou dit billik wees om van ampsdraers van die Regering te verwag om wetstoepasing deur die regsproses as 'n aanvaarbare remedie vir afsetting-oortredings te gebruik en nie hulle opportunisties te wend tot die gebruikmaking van ander wette vir dié doel nie.
"Sedert die begin van die jaar is daar nie een geval van onwettige afsetting van plaasbewoners onder Agri SA se aandag gebring nie. Ons gevolgtrekking is dus dat die Adjunk-minister wettige afsettings ook as ongeregverdige afsettings beskou. Indien dit die geval is, is dit vreemd en absurd dat daar in 'n regstaat waar wetgewing in 'n demokratiese bestel ontwikkel en van toepassing gemaak word, dit nodig gevind word om grondeienaars te dreig met onteiening terwyl hulle binne die wetlike raamwerk optree. Agri SA betwyfel dit ook of onteieningsbevoegdhede wat vir openbare belang beskikbaar is óf vir ander spesifieke doeleindes gewettig is, gebruik kan word om grondeienaars ten opsigte van hierdie aangeleentheid af te dreig", aldus Bosman.
Agri SA verwerp dreigemente van hierdie aard wat onnodige onsekerheid by landbou-grondeienaars en beleggers in die algemeen skep oor die regering se benadering tot eiendomsreg en die wyse waarop sosiale vraagstukke wat vanweë makro-ekonomiese omstandighede na vore kom, hanteer word. Bosman sê dat "die landbou die afgelope tien jaar vanweë ekonomiese werklikhede diepgaande strukturele en demografiese veranderings ondergaan het. Hierdie tendense sal nie suksesvol deur ondeurdagte regeringsingrepe verander kan word nie. Die oorsake en gevolge daarvan moet eerder op 'n vennootskapsbasis tusssen belanghebbendes bestuur word.
Agri SA se verbintenis hiertoe - soos verwoord in die Strategiese Plan vir die Suid-Afrikaanse Landbou - is goed bekend. Ongelukkig word dit deur opmerkings soos dié deur Du Toit gemaak, ondermyn."
Bosman het bevestig dat Agri SA beoog om by president Thabo Mbeki beswaar oor hierdie dreigement aan te teken en hom te versoek om die nodige opklaring en regstelling daaromtrent te gee.
13 September 2007