Agri SA verwelkom die Menseregtekommissie (MRK) se nuwe ondersoek oor vergrype op plase - mits dit onbevooroordeeld is, sê mnr. Lourie Bosman, voorsitter.
Hy het op Kwanalu se kongres in Pietermaritzburg gesê die landbou se beeld is die afgelope jare afgekraak oor beweerde vergrype van menseregte op plase en dit is nodig dat die beskuldigings weerlê moet word. Hy sê Agri SA het in 'n openlike gesprek aan kommissarisse van die MRK gesê 'n ondersoek sonder vooroordeel word verwelkom sodat 'n maatstaf geskep kan word waarvolgens vordering, sedert die kommissie se vorige verslag in 2003 gemeet kan word.
Die ondersoek is veronderstel om oor vergrype teenoor plaaswerkers sowel as plaasaanvalle te handel. Die MRK begin vandeesweek met openbare verhore by sy kantore in Parktown, Johannesburg.
Bosman sê die landbou moet sy bydraes lewer en feite na vore bring. Die uitdaging vir diegene wat oor vergrype kla is ook om die feite te bring.
Mnr. Mtholephi Mtimkhulu, LUR vir landbou en omgewingsake in die provinsie, sê ongunstige berigte oor boere is vir hom pynlik. "Daar is 'n paar vrot appels wat aan almal 'n slegte naam gee en ontbloot moet word. Die siening dat boere hulle werkers sleg behandel, moet in perspektief geplaas word. Daar is slegs 'n paar wat hulle hieraan skuldig maak.
"Boere het hul werkers nodig en die werkers het die boere nodig. Ons het almal mekaar nodig. Boere is noodsaaklik vir welvaart binne gemeenskappe en almal wat in die pad staan van die nuwe Suid-Afrika se uitdagings, moet ontbloot word."
Landbouweekblad, 21 September 2007