Landbou

DIe TLU SA het pas sy kongres gehou. Hier is mnr. Willie Lewies (links) uittredende adjunk-voorsitter van die TLU SA, saam met mnr. Tozi Gwanya, hoofgrondeisekommissaris, en mnr. Hannes Esterhuizen, nuutverkose adjunk-voorsitter. Lewies het 27 jaar in die uitvoerende komitee van die unie gedien.
Foto: Nico van Burick

Soortgelyk
TLU SA-kongres se besluite


Die TLU SA het die afgelope week kongres gehou en 'n verslag met al die belangike besluite beskikbaar gestel.

Tydens die kongres is die volgende mosies aanvaar:

  • Die kongres herbevestig die beginsel dat privaatbesitreg van grond en die verhandeling daarvan volgens die markkragbeginsels, die enigste meganisme is wat sal toesien dat die optimale benutting van landbougrond in Suid-Afrika sal plaasvind.
  • Die kongres besluit dat TLU SA sal voortgaan om alle moontlike middele tot sy beskikking, binnelands sowel as in die buiteland, aan te wend om rasionele ekonomiese denke gevestig te kry ten opsigte van die besitreg en aanwending van landbougrond.
  • Die kongres bevestig TLU SA se standpunt dat die markkragbeginsel die enigste meganisme is wat kan meehelp om te bepaal op watter wyse die beste kundigheid na vore gebring kan word om die beskikbare landbougrond maksimaal te benut ten einde voedselsekerheid vir SA te vestig.
  • Die kongres bevestig dat die beste manier om voedselsekerheid te vestig, is om bestaande kommersiële boere te ondersteun.
  • Die kongres bevestig dat die vind van 'n oplossing om voldoende voedsel vir Afrika te produseer nie as verantwoordelikheid op SA boere se skouers gelaai kan word nie. Regerings in Afrika kan onderling in hierdie verband ooreenkomste sluit en die geleentheid aan individue gee om uit eie keuse en tot eie voordeel betrokke te raak al dan nie.
  • Die kongres besluit dat die beginsel van privaat eiendomsreg so wesenlik is vir die behoud van kommersiële landbou binne 'n mark georiënteerde beskouing dat enige aantasting van boere se eiendomsreg tot ernstige gevolge sal lei.
  • Die kongres aanvaar 'n mosie van vertroue in ons leierskap en versoek die nuut verkose leiers om elke moontlike opsie te oorweeg wat die landbou-omstandighede veilig en ekonomies volhoubaar sal maak.
  • Die kongres aanvaar die noodsaaklikheid om op nasionale vlak die inisiatief te neem om toepaslike strukture ooreenkomstig TLU SA se veiligheidsbeleid as 'n saak van dringendheid te vestig en te ontwikkel om nie net veiligheidsparaatheid te kan verseker nie, maar om ook as borswering teen destabiliserende optredes wat die landbousektor teiken, te dien.
  • Die kongres aanvaar die noodsaaklikheid om die onbevredigende en gevaarlike binnelandse situasie te internasionaliseer en om elke moontlike eksterne bron te benut om druk uit te oefen sodat normaliteit in die landbousektor kan seëvier.

    Benewens bogenoemde mosies, het die kongres ook die volgende besluite geneem:

  • TLU SA sal met behoud van identiteit, selfstandig en met eie vermoëns veiligheidstrukture ontwikkel, uitbrei en in stand hou om in samewerking met ander rolspelers die veiligheid en eiendom van lede en hul naasbestaandes te verseker, veral in gevalle waar die SAPD nie hul verpligting nakom nie.
    In hierdie verband streef TLU SA na onafhanklikheid en derhalwe word lidmaatskap van die SAPD se Reservistemag nie as voorwaarde gesien nie.

    Lede moet by die SAPD, die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste aandring op dienste wat gelewer moet word asook die verwagte kwaliteit van diens wat verwag word. Die Staat kan nie van sy verpligting onthef word nie.

  • Die uitspraak van die Adjunk-minister van Landbou en Grondsake rakende die onteiening van grond in die geval van onregmatige afsetting van plaaswerkers, jaag emosies op en dra by tot toenemende spanning en onverdraagsaamheid jeens kommersiële boere. Desondanks 'n ooreenkoms met die Minister dat sodanige gevalle aan georganiseerde landbou bekendgemaak sou word, het dit nie gerealiseer nie. Die TLU SA moet hierdie toedrag van sake skriftelik onder die aandag van die Hoofgrondeisekommissaris bring en die aangeleentheid moet as 'n saak van dringendheid persoonlik op ministeriële vlak opgevolg word.

    Die aanvaarde mosies en besluite sal deur die dagbestuur van TLU SA verfyn word waarna die Uitvoerende Komitee tydens die jaarlikse beplanningsessie wat vir 18 September 2007 geskeduleer is, by die unie se beplanning ingewerk en geprioritiseer sal word.

  • Tydens TLU SA se pas afgelope kongres in Pretoria is die volgende ampsdraers verkies:
    Voorsitter: Mnr. Paul van der Walt.
    Adjunkvoorsitter: Mnr. Hannes Esterhuizen.
    Voorsitter Noord Streek: Mnr. Dries Joubert (Addisionele Dagbestuurslid)
    Voorsitter Sentraal Streek: Mnr. Louis Meintjes
    Voorsitter Wes Streek: Mnr. Ben Marais
    Voorsitter Oos Streek: Mnr. Henry Geldenhuys.

    Die Kongres het ook kennis geneem van die uittrede van mnr. Willie Lewies as adjunk-voorsitter en die aanbeveling vir die toekenning van 'n platinumknopie met lourierkransie (TLU SA se hoogste toekenning) is eenparig aanvaar.

    15 September 2007