Landbou
Lulu, Dirk aangekla van haatspraak


Die Minister van Landbou en Grondsake, me. Lulu Xingwana, en die Adjunk-minister, mnr. Dirk du Toit, is deur die Vryheidsfront Plus aangekla vir haatspraak. Die VF Plus het amptelik 'n klagte gelê by die Menseregtekommissie. Dit volg ná uitsprake van Du Toit in die Parlement dat boere hulle plaaswerkers sleg behandel en die Minister se dreigemente van onteiening teen boere.

"Beide die Minister en Adjunk-minister dreig die boere gereeld met onteiening van hulle grond. Die nuutste dreigement is dat boere wat hul plaaswerkers sleg behandel, onteien sal word. Hierdie dreigemente van onteiening dra die element van vergelding en wek die indruk dat vergelding teen sulke boere geregverdig is. Hierdie uitsprake is onverantwoordelik en kom neer op haatspraak. Emosies word opgejaag en die gebeure in KwaZulu-Natal, waar 'n boer met afsetting gedreig word, bevestig emosionele opsweping", sê mnr. Pieter Groenewald (LP), voorsitter van die Vryheidsfront Plus se federale regskomitee.

"Met hierdie uitsprake word die boeregemeenskap uitgesonder, want daar is baie maatskappye en besighede wat hulle werkers sleg, en selfs slegter behandel. Die uitsprake van die minister is ook geensins wetenskaplik en/of feitlik korrek nie. In antwoord op verskeie vrae van my oor onwettige afsettings in die Parlement, het sy erken akkurate syfers kan nie gegee word nie. Sy erken ook dat dit by die departement en deur burgerlike vennote aangemeld is. Die geldigheid daarvan is dus nie behoorlik vasgestel nie. Uitsprake en dreigemente word deur die minister en haar adjunk gemaak wat nie behoorlik gefundeer en geverifieer is nie", sê Groenewald.

"Artikel 16 (2) van die grondwet verbied baie duidelik die verkondiging van haat wat gebaseer is op ras of etnisiteit en aanstigting wat leed kan veroorsaak. Indien gekyk word na die voorvalle in KwaZulu-Natal kan daar geredeneer word dat die verkondiging van die ministers se reg op vergelding teenoor boere, reeds geweld en selfs moord tot gevolg gehad het. Hierdie optredes het die Vryheidsfront Plus genoop om amptelik 'n klag by die MRK in te dien teen die minister en haar adjunk", het Groenewald gesê.

17 September 2007