Agri SA het vandag in sy getuienis voor die Menseregtekommissie wat ondersoek instel na arbeidsomstandighede op plase, gefokus op die positiewe bydraes van die kommersiële landbou tot landelike ontwikkeling en stabiliteit - veral in soverre dit plaasgemeenskappe raak - maar ook knelpunte in die verband uitgewys.
Die Menseregtekommissie se openbare verhoor oor die vordering wat gemaak word oor verblyfsekerheid, veiligheid en werksverhouidinge op plase het vanoggend in Johannesburg begin en duur tot Donderdag, 20 September. Agri SA se voorsitter, mnr. Lourie Bosman, het in sy getuiensi gesê: "Dit is 'n onreg teenoor die wye spektrum boere wat besef dat 'n produktiewe en goed gemotiveerde arbeidsmag noodsaaklik vir sukses en vooruitgang is, en hulle werkers dienooreenkomstig waardeer en behandel. Daar moet 'n einde aan kom om te sê 'boere maak só of nie só nie.' Dié sektor word té maklik in geheel aangekla, verhoor en skuldig bevind, in plaas daarvan om op die feitelikhede van spesifieke insidente of bewerings daaromtrent te fokus."
Bosman sê dat verhoed moet word dat daar met veralgemeende en ongesubstansieerde aantygings teen die kommersiële landbou 'n klimaat geskep word vir beleid en wetgewing wat verdere beperkings op die ekonomiese en keusevryheid van boere kan plaas. "Ons verwag derhalwe van die Menseregtekommissie om met hierdie ondersoek en verhore 'n bydrae te lewer tot objektiewe dialoog oor die knelpunte en uitdagings wat hanteer moet word. Agri SA was nog altyd bereid om met realiteite as vertrekpunt, sinvolle oplossings vir die ekonomiese sowel as maatskaplike uitdagings waarvoor die sektor te staan kom, te soek".
Agri SA het in sy getuienis gewys op die organisasie en sy lede se betrokkenheid by grondhervormingsinisiatiewe, boerontwikkelingsbystand, die ontwikkeling en toepassing van arbeidsbeleid en -wetgewing asook met optrede gemik op verbeterde landelike veiligheid en sekuriteit. Die organisasie fokus ook op die algemene opheffing van plaaswerkergemeenskappe en beroepsgerigte loopbaangeleenthede waardeur van die mees emosionele kwessies waarna die Menseregtekommissie ondersoek instel, ondervang sal word.
"Om ekonomies te kan oorleef in 'n uiters mededingende omgewing moet boerderybestuur op die hoogste vlak geskied. Dit sluit in dat arbeid professioneel en met die nodige sensitiwiteit bestuur word, waartoe Agri SA en sy lede verbind is," het Bosman gesê.
18 September 2007