Die storm wat me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, en haar adjunk, mnr. Dirk du Toit, ontketen het met hulle dreigemente dat boere wat werkers van grond afsit se plase onteien sal word, duur voort.
Agri SA het by pres. Thabo Mbeki beswaar aangeteken en die Vryheidsfront Plus het die twee by die Menseregtekommissie (MRK) aangekla vir haatspraak. Mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri SA, sê pres Mbeki is skriftelike gewys op die negatiewe gevolge wat die uitlatings vir voorspoed in die land inhou en hy is versoek om hom daaroor uit te laat. Die kwessie is ook op die sakelys vir 'n gesprek met Xingwana geplaas.
Mnr. Pieter Groenewald, voorsitter van die VF Plus se regskomitee, sê die dreigemente dra die element van vergelding en wek die indruk dat vergelding teen boere, wat hulle werkers sleg behandel, geregverdig is. "Hierdie uitsprake is onverantwoordelik en kom neer op haatspraak." Vorige klagtes van haatspraak teen Xingwana is ook nog onafgehandeld by die MRK.
Intussen stroom die kritiek teen Xingwana en Du Toit se uitsprake steeds in. Mnr. Werner Weber, landbouwoordvoerder van die VF Plus, sê Xingwana se stelling dat sedert 1985 agt miljoen mense van plase afgesit is, is só verregaande dat gepaste kommentaar moeilik is. "Indie dit korrek was, sou elke enkele boer in Suid-Afrika meer as 130 werkers van hulle plase moes afgesit het. Gemiddeld was daar nooit meer as 20 werkers op 'n tipiese Suid-Afrikaanse plaas nie."
Mnr. Maans Nel, DA-woordvoerder oor grondsake, sê sy grond haar stellings oënskynlik op die wetenskaplik verdagte Nkuzi-verslag waarin beweer word dat 5,8 miljoen mense plase oor 20 jaar verlaat het. In die verslag word, sonder dat enige bewyse verskaf word, beweer dat 1,6 miljoen mense van plase afgesit is en net 1% daarvan wetttig was.
Xingwana haal hierdie syfers aan as 1% van 8 miljoen. "Dit wys duidelik dat die syfers verkeerd en selektief aangehaal word om 'n voorbedagte standpunt te steun."
Die ACDP se landbouwoordvoerder, mnr. Francois van Wyk, sê die regering skep die indruk dat hy vasbeslote is om kommersiële landbou te vernietig. Hy sê die bewering dat net 1% van afsettings wettig was, is verregaande en 'n taai klap in die gesig van ons regstelsel.
Uit landbougeledere het Graan SA 'n uitdaging aan pres. Mbeki gerig vir 'n teregwysing. Andersins kan die persepsie ontstaan dat die uitsprake deur die president gesteun word, sê mnr. Neels Ferreira, voorsitter.
Mnr. André Botha, voorsitter van Agri Gauteng, sê eiendomsreg is gesetel in die registrasie van titelaktes en die feit dat iemand op 'n perseel woon omdat dit gerieflik is sodat 'n inkomste verdien kan word, beteken nie hy het spesiale regte ten opsigte van grondbesit nie.
20 September 2007