Landbou
'Landbou gaan nou gedy'
AINSLEY MOOS

Die landbou is in 'n ongekende bloeitydperk vir die volgende drie tot vyf jaar. Graanboere behoort nóú in die landbou te belê.

Só sê mnr. Ernst Janovsky, hoof van landbou by Eerste Nasionale Bank. Janovsky het op die Agri Megaweek op Bredasdorp gesê kommoditeitspryse is aan 't styg. Met die fokus op die vervaardiging van biobrandstof uit veral mielies sê Janovsky Amerika het 5 miljoen hektaar vir uitbreiding nodig. Dié uitbreiding sal slegs plaasvind as grond bedoel vir gewasse anders as mielies nou ingespan word vir mielie-verbouing. Dit bring mee dat kommoditeitspryse aan 'n wye front styg, sê hy.

Met die Amerikaanse regering se aankondiging dat hy meer etanol wil vervaardig, het mieliepryse in Amerika tot rekordvlakke gestyg. Plaaslike prysstygings word ook hieraan toegeskryf.

Volgens Janovsky kan die styging in die prys van ru-olie die plaaslike produksie van biobrandstof meer lewensvatbaar maak. Daarby betree die verhandeling van ru-olie 'n interessante scenario in die sin dat produksie styg, maar die olieprys styg ook. "Die prys styg, maak nie saak hoeveel olie hulle pomp nie. Ons sal $100 per vat met redelike gemak in die volgende twee jaar sien," het hy gesê.

Landbouweekblad, 28 September 2007