Landbou
Jong boere oor toekoms vertel


Graanboere sal met hul produksie in die komende seisoen hoofsaaklik op markte moet fokus wat teen winsgewende pryse bedien kan word. Op kort termyn is daar nie veel wat gaan verander ten opsigte van die plaaslike markvermoë van Suid-Afrikaanse graan nie, sê mnr. Sakkie van Zyl, ekonoom van Graan Suid-Afrika.

Hy sê daar is ongetwyfeld uitbreidingspotensiaal vir plaaslike graanproduksie, maar dit word grootliks deur die huidige regeringsbeleid en winsgewendheid beïnvloed. Op kort termyn is die plaaslike mark steeds die winsgewendste.

Hy het op die vierde toekomsfokusdag vir jong boere in Senwes se bedieningsgebied by Bothaville gesê die neigings in die plaaslike verbruik van graan word deur die bevolkingsgroei en die groei in reële bruto binnelandse produk gedryf.

Hy sê die potensiaal om die mark vir die graanboer uit te brei, lê onder meer in die vervanging van invoer. In gevalle waartydens 1 miljoen ton koring per jaar ingevoer word, kon produsente hul koringaanplantings met meer as 384 000 ha uitgebrei het. In die geval van sonneblomme, sou die uitbreidingspotensiaal meer as 100 000 ha wees indien 'n jaarlikse invoer van 137 000 ton in ag geneem word.

Die faktore wat dié uitbreiding egter beperk, is die relatiewe brutowaarde per hektaar van gewasse, soos koring en sojabone (opbrengs x prys), en die afwesigheid van regeringsbeleid ten opsigte van die beskerming van die plaaslike mark.

Volgens mnr. Johan Grobler van Senwes was die byeenkoms 'n reusesukses. "Ons is in ons skik met die bywoning van sowat 250 jong boere." Die opbrengs van die dag was ten bate van Agri Noordwes en Vrystaat Landbou se jongboerverenigings en die kos wat oorgebly het, is aan die Klerksdorpse hospice geskenk.

('n Volledige artikel oor die produksiesiening van Graan Suid-Afrika verskyn in die uitgawe van 5 Oktober)

Dr. Francois Engelbrecht, 'n weerkundige van die Universiteit van Pretoria, het jong boere op Nampopark, naby Bothaville, ingelig oor die noukeurigheid waarmee weervoorspellingsmodelle veranderinge in weerstelsels kan vooruitskat. Hy het verwys na die betekenisvolle voorspellings vir die volgende 30 tot 40 jaar. Na gelang van duidelike bewyse kan Suid-Afrika warm en droër klimaatstoestande in die toekoms verwag.

Van die sprekers op Senwes se vierde toekomsfokusdag by Bothaville was mnre. Sakkie van Zyl (links), ekonoom by Graan SA, en dr. Francois Engelbrecht (naasregs), meteoroloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria. By hulle is mnre. Hentie Bothma (naaslinks), voorsitter van Vrystaat Landbou se jongboervereniging, en mnr. Gawie Bothma, voorsitter van Agri Noordwes se jongboervereniging.

Landbouweekblad, 28 September 2007