Die TLU SA het 'n nuusverklaring uitgereik na die onlangse uitsprake van die Minister van Landbou en Grondsake en haar adjunk. Die verklaring lui:
Die Adjunk-minister van Landbou en Grondsake het tydens TLU SA se jaarlikse kongres op 12 September 2007 in die Parlement 'n bepaalde standpunt uitgespreek betreffende die moontlike onteiening van grond wat aan boere behoort en wat aan onwettige uitsettings van plaaswerkers skuldig is.
Hierdie standpunt is op die volgende dag deur die Minister van Landbou en Grondsake tydens 'n FAWU kongres bevestig.
Na deeglike besinning oor die aangeleentheid het die Uitvoerende Komitee van die TLU SA op 18 September 2007 besluit dat die unie se standpunt per ope brief aan die betrokke minister bekend gemaak moet word. Die rede waarom die unie se standpunt per ope brief bekend gestel word, is as gevolg van die openbare belang wat die aangeleentheid geniet asook die kritiese ontvangs daarvan in die media.
Mnr. Paul van der Walt, voorsitter van die TLU SA het bevestig dat die reaksie van mnr. Thabo Mbeki tydens die eersvolgende sitting van die Presidensiële Landbouwerkgroep sal bepaal welke opsies deur die TLU SA oorweeg sal word.
20 September 2007
Die Minister van Landbou en Grondsake
Pretoria
Minister,
Hierdie ope brief word in belang van deursigtigheid aan u gerig.
Die vraag kan tereg gevra word wat die kernbesigheid van die Departement van Landbou en Grondsake is? Tans kom dit voor asof arbeidsaangeleenthede en verblyfreg van plaaswerkers so prominent is dat landbousake nie aandag geniet nie. Dit kom daarop neer dat die funksies van die Departement van Arbeid gedupliseer word.
Teen die einde van 2006 het TLU SA en Agri SA gesamentlik 'n klagte oor haatspraak teen u aanhangig gemaak. Tydens 'n daaropvolgende vergadering tussen u en georganiseerde landbou op 7 Februarie 2007 is 'n duidelike verstandhouding en ooreenkoms bereik wat bepaal het dat klagtes oor onwettige afsettings wat aan u Departement gerapporteer word, aan georganiseerde landbou bekend gemaak sal word vir gesamentlike ondersoek en bevestiging. Tot op datum was geen sodanige rapporterings deur u Departement gedoen nie.
Tydens 'n vergadering met u op 13 Augustus 2007, het u eensydig melding gemaak van 'n insident wat in die media gerapporteer was, en sonder enige konsultasie aanvaar dat u die aangeleentheid met die steun van georganiseerde landbou kon hanteer. Die Hoofbestuurder van TLU SA, mnr Bennie van Zyl, het hierdie aanname betwis en TLU SA se ernstige beswaar geopper teen sodanige aanmatiging.
Veel is in die media gerapporteer oor die uitlatings van u Adjunk toe hy in die Parlement aangekondig het dat boere wat skuldig is aan onwettige uitsettings, se grond onteien sal word. Uself het hierdie standpunt bevestig die volgende dag tydens 'n FAWU kongres. Dit is baie duidelik dat geen wetlike basis bestaan waarop hierdie ernstige dreigemente gegrond kan word nie.
Dit is baie duidelik dat u praktyk en voornemens om 'n eiesoortige stel maatstawwe wat op diensbeëindiging van plaaswerkers toegepas word, geen gelyke het met ander sektore in die ekonomie nie. Dit is ook duidelik dat u begrip van landbousake in soverre dit volhoubaarheid, produktiwiteit, kompeterendheid en voedselsekerheid nie aan die verwagtinge van kommersiële boere voldoen nie. U gaan onverstoord voort om kommersiële boere uit te kryt as die bullebakke en die sondebokke in die landbousektor. TLU SA is van mening dat die onlangse insident waar mnr. De Villiers wat naby Vryheid boer met onwettige afsetting deur betogers gedreig is, en die dawerende stilte vanuit die oord van die Departement van Landbou en Grondsake tiperend is van die gevolge wat na sulke uitsprake verwag kan word. Sedert u aanstelling toon u weinig begrip vir die volgehoue pogings van kommersiële boere om voedsel en vesel te produseer ongeag moeilike ekonomiese, weerkundige en ramptoestande.
TLU SA heg groot waarde aan goeie samewerking met die Ministerie, maar gegrond op u duidelike en herhaalde partydigheid, het die unie besluit om hierdie onaanvaarbare toedrag van sake met die President van die Republiek te bespreek tydens die volgende vergadering van die Presidensiële Landbouwerkgroep.
Gevolglik onttrek TLU SA van die voorbereidende vergadering wat geskeduleer is vir 21 September 2007 om onder u voorsitterskap plaas te vind. Die resultaat van die bespreking met die President sal TLU SA se opsies bepaal.
20 September 2007