Landbou
Verstaan nie bohaai, sê Du Toit
Deur JEAN-MARIE DE WAAL

Hy verstaan nie al die bohaai ná sy dreigement dat boere se grond onteien sal word as hulle hul werkers mishandel of van plase afsit nie, sê mnr. Dirk du Toit, Adjunk-minister van Landbou en Grondsake. Volgens hom fokus die georganiseerde landbou meer op die bevordering van sy beeld as om uitsettings te keer.

Hy sê die georganiseerde landbou het sake uit verband geruk.

" Ek het bloot die regsposisie met betrekking tot afsettings weergegee." Volgens hom kry hy sedert sy opmerking soveel dreigoproepe dat hy sy selfoonnommer moes verander.

Du Toit het in die Nasionale Vergadering op 'n vraag van mnr. David Dlali (ANC) gesê onteiening is ál manier om 'n boodskap oor uitsettings te stuur. " Die enigste wyse hoe hulle (boere) gaan verstaan, is wanneer die grond geraak word. Ons sal mense wat nie wil hoor nie, nie net in die hof kry nie - ons sal hul grond vat."

Hy het egter op mnr. Maans Nel, DA-woordvoerder oor grondsake, se aandrang gesê hy verwys na boere wat nie aan die georganiseerde landbou behoort nie.

Nogtans meen die georganiseerde landbou en politieke partye groot skade is aangerig ná Du Toit se uitlatings.

Weens die uitlatings en me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, se bevestiging daarvan die volgende dag, het die TLU SA hom onttrek aan 'n vergadering met Xingwana wat vir 21 September geskeduleer was. Mnr. Paul van der Walt, voorsitter, sê in 'n ope brief aan Xingwana die onaanvaarbare toedrag van sake weens haar duidelike en herhaalde partydigheid, sal op die volgende presidensiële werkgroepvergadering met pres. Thabo Mbeki bespreek word.

Hy sê die uitslag van die bespreking met die president sal die TLU SA se verdere opsies bepaal. Die TLU SA vra in sy brief wat die departement se kernbesigheid is. Hy sê dit lyk asof arbeidsaangeleenthede en verblyfreg van plaaswerkers só prominent is dat landbousake nie aandag geniet nie.

Hy sê daar is geen wetlike grondslag waarop die ernstige onteieningsdreigement gegrond kan word nie en Xingwana gaan onverstoord voort om kommersiële boere as die bullebakke en sondaars in die landbou uit te kryt.

Intussen is Xingwana en Du Toit deur die VF Plus by die Menseregtekommissie vir haatspraak aangekla. Dit is glo omdat sy ook voorheen soortgelyke " veralgemenings" in die publiek gemaak het.

Mnr. Mdu Shabane, adjunk-direkteurgeneraal van Grondsake, sê dié soort stellings spruit uit " uiterste frustrasie" . " Die burokrate het te lank gesit en praat, nou wil ons in sekere gevalle onteiening sien." Die staat gaan nie vir die wysiging aan die Onteieningswet wag nie. Hy sê sy departement gaan nou die onteieningsklousules in die Wet op die Uitbreiding van Sekuriteit van Verblyfreg (Esta), die Huurarbeiderwet en die Wet op die Beskikbaarstelling van Grond en Bystand (Wet 126 van 1993) inspan. Prof. Hanri Mostert, dosent by die Universiteit Stellenbosch se regsfakulteit, sê onteiening volgens die drie wette behoort basies soos ingevolge die Onteieningswet te verloop.

Dit kan egter nie oornag gebeur nie. Sy weet nie of die staat se motief vergelding is en of dit bloot politiekery is nie. Vergelding kan ander prosesse meebring.

" Onteiening kan volgens die Grondwet geskied - as dit in die openbare belang is. Word uitsettings as deel van grondhervorming gesien, kan dit gronde vir onteiening wees."

21 September 2007