Die aanbod wat Senwes onlangs aan aandeelhouers van die Suidwes-groep van Leeudoringstad gemaak het, bied vir aandeelhouers van Suidwes 'n meer lewensvatbare toekoms met uitgebreide diens en groter dividende en geskied in die lig van 'n onafwendbare konsolidasie van landboubesighede in Suid-Afrika, sê Senwes in 'n nuusverklaring.
Senwes se aanbod aan aandeelhouers van Suidwes Beherend Bpk. en Suidwes Beleggings Bpk. is om hul aandele te koop vir kontant, of om dit vir Senwes aandele te ruil. Hierdie aanbod hou vir Suidwes aandeelhouers 'n voordeel in van verhoogde dividende en markpryse; asook 'n drastiese verhoging in die sekuriteitsteunwaarde van hul aandele waarteen produksiekrediet verskaf kan word.
Vir produsente bied dit die voordeel dat hulle normaal kan voortgaan met hul besigheid en Senwes sal sy volledige produkaanbod in die Suidwes gebied verder uitbrei. Produsente verkry ook sodoende groter en meer volhoubare marktoegang vir hul graan en benut die voordeel van Senwes as nasionale rolspeler wat aan SEB voldoen, asook toegang tot 'n uitgebreide reeks verskansings- en pryskontrakte.
In 'n persoonlike brief aan aandeelhouers van Suidwes, sê Senwes se voorsitter, mnr. Japie Grobler, dat Senwes nou direk 'n aanbod aan aandeelhouers van Suidwes maak, ná die onderhandelinge oor 'n moontlike samesmelting vroeër vanjaar afgestel is deur die direksie van Suidwes sonder die verskaffing van redes. Deur enigeen van die aanbod-opsies te benut, verkry Suidwes aandeelhouers vir die eerste keer sedert maatskappyvorming in 1998, 'n ware ontsluiting van die waarde van hul aandele.
"Die rasionalisering van landboubesighede in Suid-Afrika is 'n ekonomiese realiteit en onafwendbaar. Senwes wil 'n strategiese rol speel in die konsolidasie van landboubesighede wat geografies by hom inpas en wil sodoende 'n bydrae maak tot 'n nuwe langtermyn toekoms vir produsente en sy landboubesigheidsvennoot," het Grobler bygevoeg.
Intussen het Senwes die aandeelhouers van Suidwes attent gemaak op sekere spesiale besluite wat die direksie van Suidwes voorstel - wat beperkend vir aandeelhouers kan wees. Dit behels 'n 5% beperking op aandeelhouding; 'n moontlike benadeling van kleiner aandeelhouers tydens 'n aandele terugkoop-reëling asook die vestiging van aparte klasse vir aandeelhouers. Senwes het aandeelhouers aangeraai om teen die spesiale besluite te stem.
Senwes se aanbod is geldig tot Vrydag, 26 Oktober 2007 om 12:00 en is onderworpe aan sekere opskortende voorwaardes. Meer inligting oor die aanbod is beskikbaar op Senwes se webwerf by www.senwes.co.za.
26 September 2007