Landbou
Skrywers vereer melkboer
THEUNS BOTHA

Landbouskrywers Oos-Kaap het mnr. Trevor Elliott (50) van Grasslands by Jeffreysbaai as sy Boer van die Jaar bekroon. Dié toekenning is Vrydagaand tydens 'n glansgeleentheid in Port Elizabeth aan hom oorhandig.

Elliott boer op sewe plase in die Tsitsikamma, Gamtoos- en Visriviervallei. Hy is een van Afrika se grootste melkprodusente. Die sowat 6 800 koeie wat seisoenaal gemelk word, lewer gedurende die spitstydperk nagenoeg 150 000 liter melk per dag. Daar is 'n verdere 4 000 verse op die 3 380 hektaar, waarvan 1 837 hektaar uit aangeplante weidings bestaan. Die jaarlikse omset van sy boerdery beloop meer as R100 miljoen.

Prof. Jan Raats, dekaan van natuurwetenskappe aan die Fort Hare Universiteit, is op dieselfde geleentheid as die provinsie se Landboukundige van die Jaar benoem en mnr. Themba Hinana, Ntabathemba naby Queenstown as die Opkomende Boer van die Jaar.

Landbouweekblad, 5 Oktober 2007