Landbou
Lulu se feite 'verkeerd'
CHARL VAN ROOYEN

Skynbaar het me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, die kat aan die stert beet met haar bewering dat net een persent van die plaaswerkers die laaste jare wettig op plase ontslaan is.

Dit is as mnr. Letlhogonolo Gaborone, nasionale programbestuurder van die Rural Legal Trust, sy feite reg het. Volgens hom gaan dit daaroor dat daardie een persent na afgedankte plaaswerkers verwys wat nie regsverteenwoordiging gehad het nie.

Hy het verlede week op kykNet se aktualiteitsprogram Wat's die Storie deelgeneem waar hy hierdie stelling gemaak het. Toe hy daarop gewys is dat sy vertolking van dié van die minister verskil, het hy volgehou die 1 % verwys na regsverteenwoordiging.

Die stof het nog nie gaan lê oor Xingwana se bewering dat agt miljoen mense sedert 1985 van plase afgesit is en dat net 1 % daarvan wettig was nie. Mnr. Dirk du Toit, adjunkminister, het boonop gedreig boere wat werkers onwettig afsit, se plase sal onteien word.

Gaborone sê hulle is bekommerd dat werkers wat ontslaan word nie weet waar om regshulp te kry nie.

Mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri Suid-Afrika wat ook aan die program deelgeneem het, sê werkers is baie beter ingelig as wat Gaborone dink. Hulle weet beslis waar om hulp te kry. Boonop wil Agri SA ook weet as daar onwettige afsettings is.

Landbouweekblad, 5 Oktober 2007