Landbou
Ondersoek na biodiesel in SA
CHARL VAN ROOYEN

'n Deurtastende ondersoek is deur die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) na die gehalte van biodiesel in Suid-Afrika begin.

Dr. Zen Fourie, hoofbestuurder van strategie. en dr. Lourens du Plessis, medewerker van die SABS, sê hulle wil soveel moontlik vervaardigers van biodiesel identifiseer om hulle te nooi om aan die projek deel te neem.

Die Regering is ten gunste van alternatiewe energiebronne, maar die sukses van 'n biobrandstofbedryf op nywerheidsvlak is grootliks van ekonomiese lewensvatbaarheid afhanklik, asook die toepassing van gehaltebeginsels en die behoud van spesifikasies.

Daarom nooi die SABS kommersiële vervaardigers en diegene wat biobrandstof vir private verbruik vervaardig, om aan die ondersoek deel te neem. Die SABS sal self 'n monster van ongeveer vyf liter neem en gratis chemiese en fisiese ontledings daarop uitvoer. Die verskaffer sal dan 'n vertroulike verslag van die bevindinge ontvang. Hierdie stap sal produsente in staat stel om ingeligte besluite oor die voldoening van gelewerde produkte te neem en die nodige aanpassings te maak.

Hulle sê die SABS se laboratoriumdiens sal die resultate in 'n ongemerkte formaat registreer om 'n profiel van biodiesel saam te stel sonder om die vervaardiger se identiteit bekend te maak. 'n Algemene verslag sal aan belangstellendes beskikbaar gestel word en kan as verteenwoordigend van die huidige gehalte van biodiesel dien.

Die SABS se tegniese komitee vir biobrandstof het reeds 'n belangrike rol gespeel in die aanvaarding van twee standaarde, naamlik SANS 1935:2004 vir biodiesel en SANS 465:2005 vir bio-etanol.

Nege biodieselvervaardigers is reeds geïdentifiseer wat toerusting het om meer as 20 000 liter biobrandstof per maand te lewer en kan breedweg as kommersiële vervaardigers geklassifiseer word. Slegs vier is tans besig met beperkte produksie, omdat die hoë prys van plantolie die bedryf onekonomies maak. Slegs produsente wat gebruikte of besoedelde olie kan bekom, kan tans ekonomies funksioneer.

'n Verdere elf produsente is as nie-kommersiële vervaardigers geklassifiseer, waarvan slegs vier tans aktief is. Hulle vervaardig biobrandstof hoofsaaklik vir eie gebruik.

Die soorte plantolie wat gebruik word, is sojabone, sonneblom, kanola, palmolie en gebruikte olie.

Belangstellendes kan hul besonderhede per e-pos stuur aan me. Marisa Stone by stonem@sabs.co.za, of mnr. Ronnie Rikhotso by rikhotp@sabs.co.za.

Landbouweekblad, 5 Oktober 2007