Landbou
Oornames kan nie gekeer word
ISABEL STOLTZ

Dit lyk asof die rasionalisering van landbou-ondernemings in Suid-Afrika nie gekeer kan word nie. "Dit is 'n ekonomiese werklikheid. Senwes wil 'n strategiese rol daarin speel en sodoende 'n bydrae lewer tot 'n toekoms vir produsente en besigheidsvennote," het mnr. Japie Grobler, voorsitter van Senwes, oor sy maatskappy se "aggressiewe" oorname-poging van die Suidwes-groep van Leeudoringstad gesê.

Senwes het 'n regstreekse aanbod aan Suidwes se aandeelhouers gemaak ná onderhandelinge tussen die onderskeie direksies deur die mat geval het.

Senwes het 'n aanbod van 200 sent per aandeel, die reg op nuwe Senwes-aandele (43 vir elke 100 Suidwes-aandele) of 'n kombinasie daarvan aan aandeelhouers van Suidwes Beherend gemaak.

As Senwes 'n belang van 50,1 % in Suidwes Beherend bekom, slaag sy oorname-poging.

Vir aandele in Suidwes Beleggings is die aanbod 224 sent per aandeel, 48 Senwes-aandele vir elke 100 Suidwes-aandele of 'n kombinasie daarvan.

'n Aandeelhouer van Suidwes wat anoniem wil bly het aan Landbouweekblad gesê hy is in sy skik met die aanbod. "Almal behoort optimisties te wees oor die aanbod. Diegene wat nie wil verkoop en geld maak nie, kry in ruil vir Suidwes-aandele groter bedingingsmag en blootstelling aan die effektebeurs indien Senwes noteer."

Senwes beoog om volgende jaar te noteer en dié transaksie word as noodsaaklik vir sy notering beskou.

Suidwes se direksie het in 'n persverklaring gesê Senwes se aanbod is nie in die beste belang van sy aandeelhouers nie. Hy steun gevolglik nie die aanbod nie. Volgens Suidwes se direksie moet die tydsverloop voor die Mededingingsowerhede sowel as die voortbestaan van dienste en geriewe op Leeudoringstad as 'n lewensvatbare besigheidsgemeenskap in ag geneem word.

Mnr. Antonie Jacobs, uitvoerende hoof van die genoteerde landbou-beleggingsmaatskappy Zeder, het in 'n versigtiger reaksie gesê Zeder "ondersoek die voor- en nadele van die aanbod en sal mettertyd 'n besluit bekend maak".

Hy sê die samesmelting van landboumaatskappye is 'n wêreldwye verskynsel wat nie sonder meer afgeskiet óf gesteun kan word nie omdat klein en groot maatskappye elk hul eie meriete het.

Senwes sê in verklaring hy het die aandeelhouers van Suidwes se aandag daarop gevestig dat laasgenoemde se direksie 'n beperking van 5 % op aandeelhouding voorgestel het. Daar word vandeesweek oor die saak en die moontlike vestiging van afsonderlike klasse vir aandeelhouers op Suidwes se jaarvergadering gestem. Senwes het die aandeelhouers aangeraai om teen dié spesiale besluite te stem.

Senwes se aanbod is volgens die verklaring geldig tot 26 Oktober, onderworpe aan sekere opskortende voorwaardes. Inligting oor die aanbod is beskikbaar op Senwes se webwerf by www.senwes.co.za.

Landbouweekblad, 5 Oktober 2007