Stygende rentekoerse en effens ongunstige indrukke oor die algemene toestand in die landbou het nie die vertroue van die meeste hoofde en finansiële bestuurders van landbou-ondernemings in hul sake benadeel nie.
Hulle het in die Landboubesigheidskamer (LBK) en die Industrial Development Corporation (IDC) se indeks vir sakevertroue aangedui dat hulle amper 8,6 % meer optimisties is oor die derde kwartaal van 2007. In dieselfde tyd verlede jaar was daar egter 'n drastiese afname in landbousakevertroue weens die erge droogte sigbaar.
Volgens die LBK en die IDC wat die indeks ontwikkel het, is die landbou tans in 'n wag-en-kyk-tydperk veral weens die ongunstige klimaat in die grootste deel van die land. Vroeë reën in die somerreëngebied sal beslis 'n gunstige uitwerking op hul vertroue in die vierde kwartaal hê, word in 'n verklaring gesê.
Me. Lindie Botha, landbou-ekonoom by die LBK, sê die verhoging van rentekoerse is ongunstig gesien op lang termyn. Boere se terugbetalingsvermoë gaan versleg en produksielenings sal moeiliker bekom kan word. Hoër rentekoerse beteken ook minder beleggings in nuwe tegnologie asook in beter kultivars. Mededingendheid word dus gestriem.
Verder lyk dit asof die nuwe Kredietwet gaan veroorsaak dat 'n groot aantal boere nie lenings sal kry nie.
Selfs al is die pryse van vleis en graan tans hoog, laat die hoër rentekoers produksiekoste styg. "Ons moet kan produseer om teen hoër pryse te kan lewer. Dít is waar die droogte nou weer bepalend raak vir die vierde kwartaal."
Landbou-ondernemings trek voordeel uit hoër pryse, maar die produksievolume moet styg voor die voordeel werklik in hul omset en netto bedryfsinkomste gesien kan word, sê sy.
Verder is die styging van indiensname (op 12,3 %) en kapitaalbelegging (op 6,3 %) laer as die vorige drie kwartale.
Ander faktore wat 'n ongunstige uitwerking op sakevertroue het, is ondernemings wat in minder mededingende bedrywe, soos tabak, handel dryf. Ondernemings in die volstruisbedryf het ook gesukkel weens voëlgriep wat die bedryf sy uitvoervenster in 2006 laat verpas het.
Die LBK/IDC se opname word na meeste hoofde en finansiële bestuurders van agribesighede gestuur. Dit sluit almal in die sekondêre landbousektor in.
Landbouweekblad, 5 Oktober 2007