Landbou
Grondtaks hier vir Nam-boere


Namibiese boere het net tot 3 Oktober vanjaar tyd het om beswaar aan te teken teen die waardasies van grond waarop grondbelasting vir die volgende vyf jaar betaal gaan word, luidens die jongste nuusbrief van die Namibiese Landbou-unie (NLU).

Volgens dié landbou-unie gaan die waardasiehof vanaf 5 November 2007 besware wat aangeteken is. aanhoor.

Die NLU word oorval met navrae oor hoekom die NLU nie namens boere beswaar kan aanteken teen die grondbelasting nie. Die NLU kan dit nie doen nie om die volgende redes:
1. Volgens Art 6 (1) (a) en (b) van die Land Valuation and Tax Regulations kan slegs 'n eienaar van grond beswaar aanteken indien hy of sy dink sy of haar grond se waarde is té hoog of té laag. Die vorms vir die beswaar is by al die kantore waar die waardasierolle ter insae lê, beskikbaar. Die NLU-kantoor het ook vorms beskikbaar.

2. Daar is geen eenstemmigheid in hierdie stadium tussen lede van die NLU of die waardasies te hoog, te laag of reg is nie. Die NLU kan dus nie 'n algemene standpunt inneem nie omdat daar geen eenstemmigheid tussen lede is nie.

3. Indien die NLU 'n standpunt sou inneem dat die waardasies te hoog is, sal die eienaar wat sy grond wil verkoop heel moontlik die NLU blameer indien hy 'n prys realiseer wat na sy mening te laag is. Die NLU kan dus nie aan die een kant beding vir laer waardes van grond ter wille van grondbelasting en dieselfde tyd hoër pryse beding indien 'n persoon wil verkoop nie.

4. Die NLU het reeds 'n brief aan die Ministerie van Grondsake geskryf ten opsigte van die volgende punte:

  • Dat die gebruik van die markwaarde as een van die kriteria (tesame met die drakrag) nie regverdig is nie omrede die mark versteur is as gevolg van die gebrek aan 'n vrye mark ten opsigte van die verhandeling van grond. Die gebruik van die produksiewaarde/ potensiaal kan dalk meer realisties wees.
  • Dat in sommige gevalle die waardasies van aangrensende plase onrealisties hoog verskil wat nie verband hou met die verandering in drakrag tussen die plase nie.

    5. Die berekening van die grondbelasting is 0,75% vir die eerste plaas en styg daarna met 0,25% vir elke daaropvolgende plaas (die plase kan wel onder een Titelakte geregistreer wees). Buitelanders betaal 1,75% vir die eerste plaas met 'n styging van 0,25% vir elke daaropvolgende plaas.

    29 September 2007