Landbou
Prokureur pak Dirk du Toit
Deur ISABEL STOLTZ

Die Adjunk-minister van Landbou, mnr. Dirk du Toit, is deur 'n prokureursfirma van Noordwes versoek om sy openbare uitsprake te kwalifiseer omdat dit voorkom of hy met die Konstitusionele Hof verskil.

HJ Moolman Prokureurs van Potchefstroom het in 'n skrywe aan Du Toit gevra om die posisie van boere wat werkers wettig uitsit, duidelik te maak. Dit is nadat hy in die Parlement boere wat uitsettings voortsit, met onteiening gedreig het.

Moolman wil van die adjunk-minister weet of hy hom vergewis het van die meriete van gevalle waar uitsettings aangevra word.

Sy firma tree op namens talle boere in die beslegtiging van geskille rondom verblyfreg op plase. Hy wys Du Toit daarop dat die Konstitusionele Hof die regte van grondeienaars ook erken en in uitsprake bekkemtoon dat die Wet op Sekerheid van Verblyfreg daarop gemik is om sowel die grondeienaar as die onwettige okkupeerder behulpsaam te wees.

"In die meeste gevalle skep 'n gedwonge voortsetting van die verhouding tussen grondeienaar en okkupeerder 'n onhoudbare situasie van fisiese aanranding, intimidasie, besitaanmatiging en algehele miskenning van die grondeienaar se grondwetlike regte deur die okkupeerder wat dikwels aangehits word deur amptenary en nie-regeringsorganisasies."

Moolman sê die meeste boere volg 'n wetlike pad om in verdienstelike gevalle hul regte af te dwing. "Wat is u boodskap aan hierdie boere?

"Ons en ons kliënte het vertroue in die Departement van Landbou en Grondsake se vermoë om dispute op te los, verloor. Indien u 'n versoek rig dat alle uitsettings gestop word, moet u Departement 'n alternatiewe oplossing daarstel vir grondeienaars."

Du Toit sinspeel in 'n niksseggende antwoord daarop dat die vorige regering van boere verwag het om "rassistiese staatsdoelwitte" ten opsigte van werkerverblyf uit te voer sonder om te verduidelik wat hy daarmee bedoel of hoe hy dit in verband bring met die vrae wat aan hom gestel is.

Hy verskaf in die kort brief geen duidelikheid oor sy uitsprake nie.

2 Oktober 2007