Die tamatiesous-vervaardiger H.J. Heinz het 'n soeter tamatie-kultivar op sy proefplaas in Kalifornië ontwikkel om die steeds stygende mielieprys se uitwerking op sy winste te probeer versag.
Die hoë fruktose-mieliestroop wat Heinz in sy wêreldbekende tamatiesous gebruik, kos die maatskappy deesdae 25 persent meer as twee jaar gelede, berig die Wall Street Journal. En die stroop verteenwoordig sowat 'n tiende van elke bottel Heinz-tamatiesous se produksiekoste.
Hoewel Heinz reeds sy pryse verhoog het, styg kommoditeitpryse nog vinniger as wat die maatskappy sy produkte kan duurder maak. Sy alternatiewe strategie is dus om soeter tamaties te teel.
Heinz het na wat berig word sy begroting vir saadnavorsing die afgelope drie jaar met 40 persent verhoog, sy proefplaas in Kalifornië vergroot, en sy span planteteelt-navorsers tot 30 verdubbel.
Tot twee jaar gelede was die hoofdoelwit nog om opbrengste te verhoog, maar namate mieliepryse die hoogte in geskiet het, het die klem na soeter kultivars verskuif.
Die nuwe kultivar, wat soos 'n Roma-tamatie lyk, is glo 5 tot 10 persent soeter as die tamaties wat nou in Heinz-tamatiesous gebruik word, maar die naam word nog geheim gehou. Die saad sal aan boere verkoop word wat aan Heinz lewer, en hulle sal dit nie aan ander maatskappye mag verkoop nie.
3 Oktober 2007