Die Snyberg-boerdery van mnre. GT en Werner Ferreira van Uniondale, is pas in Italië vir die vierde keer as die wenners in die Ermenegildo Zegna-kompetisie aangewys. Dié toekenning vir die beste baal somer-kleinbokkiehaar is Zegna se hoofkantoor in Trivero gemaak.
Hiermee het hulle die eerste boerdery geword om al drie gesogte toekennings in die sybokhaarbedryf binne dieselfde jaar in te palm. Hulle het vroeër vanjaar die Japanse Miyuki-trofee vir die beste somer- en winterskeersel vir die 10 de agtereenvolgende jaar gewen en ook vir die derde keer die Daidoh-trofee, vir die hoogste gemiddelde prys vir somer-kleinbokkiehaar, gewen.
Die Ferreiras wat met sowat 2 000 sybokke boer skryf hulle prestasie aan die volgehoue lewering van gehalte sybokhaar toe.
Tydens die plegtigheid verlede week in Italië is mnre. Billy Colborn van Willowmore as die naaswenner aangewys. Die ander wenners was mnr. Piet Viljoen van Kleinpoort (3e plek); Boertjie Oelofse van Jansenville (4e) en Paul Michau van Cradock (5e plek).
4 Oktober 2007