Landbou
Kommer oor dieselprys
NICO VAN BURICK

Die vakbond Solidariteit het sy kommer uitgespreek oor die voortdurende styging van die dieselprys en die invloed wat dit op die land se ekonomie kan hê.

Volgens mnr. Ulrich Joubert, ekonoom by Solidariteit, is die styging van 23c per liter in die prys van diesel uiters kommerwekkend. "Die diesel-prysstyging het 'n groot invloed op sakebedrywighede. Planttyd begin in Oktober en November in die somerreënvalgebiede en die prysstyging sal 'n beduidende uitwerking op boere se insetkoste hê. Dit sal verdere opwaartse druk op die inflasiekoers uitoefen."

Die verandering in diesel en petrolpryse weerspieël die vraag en aanbod in die plaaslike en internasionale markte. Internasionaal vind daar 'n verskuiwing van petrol na dieselvoertuie plaas, omdat dieselenjins meer brandstofdoeltreffend is. "Verbruikers sal moet aanvaar dat die vraag na diesel hoog gaan bly, nie net internasionaal nie, maar ook in Suid-Afrika waar die plaaslike konstruksiebedryf die vraag vir minstens die volgende vyf jaar hoog sal hou," sê Joubert.

"Daarbenewens word die petrolprys deur die regering gereguleer, maar vir dieselprys-aanpassings word slegs 'n riglyn verskaf. Verlede maand was die dieselprys-aanpassing 5c, maar baie vulstasies het hul pryse met 15c of meer verhoog. Gevolglik gaan nie al die vulstasies by die voorgestelde 23c van vandeesmaand hou nie. Verbruikers sal binnekort die rimpeleffek van die styging aan hul sakke kan voel," het hy gesê.

Ekonome voorspel nog 'n verhoging volgende maand.

Landbouweekblad, 5 Oktber 2007