Suidwes se aandeelhouers het pas oorweldigend teen Senwes se oorname-poging gestem. Senwes het gevolglik sy aanbod aan Suidwes se aandeelhouers onttrek.
Senwes het twee weke gelede gesê hy maak 'n regstreekse aanbod aan Suidwes se aandeelhouers. Senwes, met sy hoofkantoor op Klerksdorp, het aangevoer sy poging om Suidwes, met sy hoofkantoor op Leeudoringstad, oor te neem, is om strategiese redes. Senwes meen die oorname sal hom doeltreffender maak.
Kort nadat Senwes sy planne bekend gemaak het, het Suidwes 'n teenoffensief geloods. Dit was in die vorm van 'n voorstel vir 'n beperking van 5% op aandeelhouding in Suidwes Beherend, die beheerstruktuur waarin Senwes ten minste 50,1% wou verkry om die oorname deur te voer.
Op Suidwes se jaarvergadering verlede week het 84% van sy aandeelhouers in Suidwes Beherend, almal bona fide boere, ten gunste van die perk gestem. Dit het Senwes se oorname-poging gekelder.
'n Verheugde mnr. Schalk Pienaar, besturende direkteur van Suidwes, sê sy maatskappy se aandeelhouers het 'n ongekwalifiseerde mosie van vertroue in die direksie gestel.
5 Oktober 2007