Landbou
'Oorweeg meer sojabone'


Die afnemende neiging om sojabone te plant is kommerwekkend en produsente behoort dit te oorweeg om meer sojabone aan te plant, sê die voorsitter van Graan SA se sojaboonspesialiswerkgroep.

Volgens die eerste voorneme om te plant wat verlede week deur die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) vrygestel is het produsente aangedui dat hulle van plan is om 150 000 ha sojabone aan te plant. Indien die oppervlakte wel aangeplant word sal dit 18% of 33 000 ha minder as die werklike aanplanting in die vorige seisoen wees. Dit is ook 90 570 ha of 37,6%minder as twee seisoene gelede se aanplantings.

"Hierdie afnemende tendens is kommerwekkend en produsente behoort dit te oorweeg om meer sojabone aan te plant," sê mnr. Frans Potgieter, voorsitter van Graan SA se sojaboonspesialiswerkgroep, in 'n nuusverklaring.

Potgieter sê verder dat sekere strukturele verandering in die plaaslike sojaboonbedryf, wat onder andere die skep van sojaboonperskapasiteit insluit, groter waarde ten opsigte van sojabone ontsluit het. As gevolg hiervan het die prysverhouding tussen sojabone en ander kompeterende gewasse soos byvoorbeeld mielies positief ten gunste van sojabone verander.

Suid-Afrika voer jaarliks groot hoeveelhede sojameel (koek) in en word tans ook beduidende hoeveelhede sojabone ingevoer. Graan SA-projeksies dui daarop dat in die huidige bemarkingseisoen tot soveel as 120 000 ton sojabone ingevoer kan word. Hierdie tendens veroorsaak dat sojabone al hoe meer op 'n invoerpariteitsbasis geprys word wat bydra tot die beter prysverhouding van sojabone. 'n Onlangse opname deur Graan SA dui daarop dat teen huidige vooruit kontrakpryse op SAFEX (Mei en Julie 2008) en langtermyn gemiddelde opbrengste, sojabone beslis 'n groter plek in produsente se wisselbouprogramme verdien.

Potgieter voeg egter by dat elke individuele produsent sy eie situasie op die plaas deeglik moet ontleed en seker maak dat hy tegnies toegerus is voordat op groot skaal na sojabone oorgeskakel word.

8 Oktober 2007