Landbou
Landbou kort leierskap - DG
Deur ISABEL STOLTZ

Die landbou is 'n uiters sensitiewe sektor wat sonder roekelose uitsprake kan klaarkom, het mnr. Masiphula Mbongwa, Direkteur-generaal van Landbou, op die Agri SA-kongres gesê in wat deur kongresgangers as 'n vingerwysing na die Minister van Landbou en Grondsake beskou is.

Minister Lulu Xingwana is al geruime tyd in die nuus oor gereelde ongesubstansiëerde dwarsklappe na wit boere en verhoudinge tussen haar en kommersiële landbou is op 'n laagtepunt.

Mbongwa sê landbou kort leiding en daardie leiding moet van Agri SA af kom. "Die departement wil graag by Agri SA aansluit om die landbou te lei." Hy het die georganiseerde landbou gevra om planne voor te lê hoe om die strategiese landbouplan te laat werk.

"Die wêreld-ekonomie het die belang van landbou in Suid-Afrika na vore gebring en vir die Regering gewys sy pad met die landbou bereik nie die doelwitte nie. Dit het vir die Regering gewys invoere klim en produksie daal.

"Die boodskap wat dit aan die Regering bring, is dat as die landbousektor ondergaan, gaan die res van die ekonomie saam onder. Ongeag wat landbou se aandeel in die BBP is - as dit goed gaan met die sektor, gaan dit goed met die res van die land."

Hy het gesê die landbousektor het nie 'n nuwe tydperk en plan nodig nie. Wat nodig is, is dat die bestaande landbouplan in werking gestel word, "sonder swartlys-gedrag en uitsprake".

Hy het verwys na vroeëre beskuldiginge van regeringskant dat kommersiële boere kommoditeitspryse manipuleer en gesê "dankie tog daardie siening is reggestel".

Mbongwa het die totale boerdery gemeenskap vir sy goedgesindheid bedank en die sektor aangemoedig om van "Aspoestertjie" in "Cinderella" te verander deur "die skoen te laat pas" en soos 'n leier op te tree.

Hy het gesê dit is haalbaar dat 5 miljoen hektaar grond in wit besit na 10 000 nuwe landbouprodusente oorgedra kan word; dat swart entrepreneurskap in agribesighede met 10% verhoog kan word en dat landbouproduksie en handel vir teikengroepe met tot 15% verhoog kan word deur toegang tot ondersteuningsdiente.

9 Oktober 2007