Landbou
Avoboere werk saam, behou prys
Deur ANDRIES GROENEWALD (agroenew@landbou.com)

Internasionale kommunikasie en die uitruil van bemarkingsinligting met ander avokadoproduksielande het tot 'n meer geordende vloei van Suid-Afrikaanse avokado's na die uitvoermarkte gelei. Goeie markpryse is in die proses behou.

Mnr. Don Westcott, voorsitter van die Suid-Afrikaanse kwekersvereniging vir avokado's, lietsjies, makadamias en mango's (Subtrop), het tydens die eerste Subtrop-simposium op Tzaneen in Limpopo gesê die verhoging in inkomste wat hierdeur bewerkstellig is, is merkwaardig - veral as dit vergelyk word met die situasie in die 1990's.

"In die laat 1990's was daar heelwat minder mededinging op die Europese market as vandag en met 'n bemarkingseisoen van drie maande vir plaaslike avokado's was die maksimum markpotensiaal slegs sowat 700 000 kartonhouers per week.

"Enige groter volume het die markprys in duie laat stort en dit het soms weke geduur voor dit herstel het.

"In die huidige avokadoseisoen is vir die twee maande spitsseisoen in Europa, met mededinging uit Peru, tot 1,2 miljoen kartonhouers per week van die hand gesit sonder die opbou van volumes en die ineenstorting van pryse," het Westcott gesê.

Landbouweekblad, 12 Oktober 2007