Landbou
Unies bots met Adjunk-minister
Deur SAPA

Spanning tussen die Regering en die georganiseerde landbou het tot 'n botsing op 'n gesamentlike nuuskonferensie in Pretoria gelei. Dit was net ná afloop van 'n vergadering van die Presidensiële Landbouwerkgroep by die Uniegebou.

"Hou op om hierdie populistiese nonsens te praat," het 'n lid van die TLU SA die Adjunk-minister van Landbou en Grondsake, mnr. Dirk du Toit, toegesnou.

Die onderonsie het ná die nuuskonferensie wat op die vergadering gevolg het, gebeur. Volgens Sapa was Du Toit en lede van die landbou-unies in 'n warm gesprek gewikkel oor die adjunk-minister se opmerkings dat die landbou in Suid-Afrika nie beleggings lok nie weens plaasafsettings.

"Hierdie soort van obskure etniese suiwering hou niks goeds vir Suid-Afrika in nie. Ons sal voortgaan met gesprekke in dié verband en probeer om 'n einde te bring aan dié soort van apartheid-verwante werksaamhede," het Du Toit gesê.

Toe Du Toit gevra is of dié saak met die landbou-unies bespreek is en of voorbeelde aangebied is sodat die unies stappe kon doen, het Du Toit gesê hy het briewe aan die landbou-unies geskryf. Dit is luid deur die verteenwoordigers van die landbou-unies ontken.

  • Nuusberig deur Sapa verskaf.

    10 Oktober 2007