Landbou
Boere woedend vir Dirk du Toit
Deur NICO VAN BURICK

'n Striemende aanval deur mnr. Dirk du Toit, Adjunk-minister van Landbou en Grondsake, waarin die georganiseerde landbou van "apartheidspraktyke" en "etniese suiwering" weens afsettings op plase beskuldig is, het die woede onder leierboere laat oorkook.

'n Nuuskonferensie ná afloop van die landbouwerkgroep met pres. Thabo Mbeki het in 'n bekgeveg ontaard toe Du Toit die landbousektor onverwags weer oor plaasafsettings aangeval het.

"Jy is besig met laakbare populistiese twak"; "Jy wil net probeer stemme werf" en "Moenie hier staan en nonsens praat nie" het leiers van Agri SA en TLU SA openlik aan hom gesê.

Hy het tydens die nuuskonferensie beweer dat beleggings in die landbou deur "apartheidspraktyke" soos plaasafsettings gekortwiek word. Hy het die afsettings as 'n "obskure vorm van etniese suiwering" beskryf en gesê dit is 'n voortsetting van 1961-wetgewing waarvolgens landbougebiede "sover moontlik van swartmense skoongemaak moes word".

Hy is luidkeels as 'n leuenaar bestempel toe hy in antwoord op 'n vraag gesê het georganiseerde landbou is al per brief van bewyse oor afsettings ingelig.

Op 'n vraag of die kwessie ook by die vergadering met die president ter sprake was, het me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake gesê dit is wel uit die geledere van die georganiseerde landbou genoem. Daar is egter besluit op 'n aparte vergadering die afgelope Vrydag sodat die betrokke partye die geskil breedvoerig kon bespreek en aanvaarbare oplossings vind.

Mnr. Paul van der Walt, president van TLU SA, het gesê hulle was nie vooraf bewus van dié vergadering nie. "Ek wil dit kategories ontken dat ons nog op die pad is wat Dirk nou vir u uitgespel het," het hy op Du Toit se uitsprake reageer. As dit wel die geval is, moet Du Toit kyk na sy regering, beleid en wette wat dan sulke praktyke nog toelaat. "Van die boere se kant af is die probleem die verwydering wat tussen ons en beide ministers heers."

Agri SA het later in 'n verklaring bevestig dat die werkgroepvergadering met pers. Mbeki aan sy verwagtinge voldoen het. Mnr. Lourie Bosman het dit as 'n konstruktiewe vergadering beskryf waarin belangrike en sensitiewe beleidsake soos transformasie, winsgewendheid en volhoubaarheid sowel as vertroue en die beleggingsklimaat is bespreek. Hy sê pres. Mbeki is ingelig dat trae investering in die landbou onder meer toegeskryf kan word aan onsekerheid wat geskep word deur kwetsende uitlatings deur politici. Dit skep twyfel oor die regering se benadering met grondhervorming en die beskerming van eiendomsreg.

10 Oktober 2007