Landbou
Sektorplan onder verdenking
Deur NICO VAN BURICK

Die feit dat 'n gesamentlike taakspan wat toesig oor die vordering met die implementering van die Strategiese Plan vir Landbou moet hou, klaarblyklik nog nooit eers byeen was sedert die plan in 2001 aanvaar is nie, maak die vordering met die plan verdag.

Prof. Johann Kirsten, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria, wat in opdrag van pres. Thabo Mbeki die plan hersien, sê daar is vrae oor die uitvoering van die plan. Hy het by Agri SA se kongres gesê daar is waarskynlik nog nie aan die visie van 'n verenigde en vooruitstrewende landbousektor voldoen nie.

Daar was 'n vereiste dat die Regering dinge anders, met groter spoed en groter dringendheid binne vennootskappe moes doen. Dit wil voorkom of dit wel die Departement van Landbou se jaarlikse program en besteding geraak het. Die begroting vir landbou het sedert 2002 van R500 miljoen af na R1,75 miljard verhoog. Ook binne verskeie bedryfsektore is strategiese planne aanvaar.

Maar is die visie bereik? "Waarskynlik nie. Is ons verenig? Ek sou sê nee," het hy gesê. Hy sê daar is nog nie werklike integrasie van rolspelers en boere op provinsiale en distriksvlak nie. Daar is ook nie 'n gedeelde visie tussen politieke leiers, die Regering, boere en agri-besigheid nie. Daar is wel pogings maar nog nie werklike hervorming en 'n werklike verbondenheid nie.

"Is ons voorspoedig? Ook nie werklik nie." Daar is min vaste beleggings in die landbou, 'n afname in boerdery-inkomste, 'n skerp toename in produksiekoste, produktiwiteit groei stadig en daar is baie misdaad en diefstal.

Kirsten sê die sektor moet krities na homself kyk oor wat ontbreek. "Is dit die verbintenis, leierskap,'n algemene visie of bloot politiek?" Hy glo dat sonder baie sentiment en begrip vir die werklikhede van landbou, daar nie beleggings en groei in die sektor sal wees nie - geen 6% teiken nie. Die vraag is wie gaan die 60% van die bevolking in stedelike gebiede voed. Gaan dit deur invoere teen hoë wêreldpryse wees?

Mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, het gesê die organisasie ag die Sektorplan nog as van toepassing. Die algemene raad van dié unie sal kommentaar en riglyne oor die uitvoering saamstel waarop al Agri SA se affiliasie kommentaar sal kan lewer.

11 Oktober 2007