Die kriminsalisering van plaasafsettings is hoogmode in die landboudebat. Dít is die kern van die spanning tussen die kommersiële landbou en die ministerie, sê dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri SA se grondsakekomitee.
Hy sê die sogenaamde Nkuzi-verslag word wild en wakker aangehaal ongeag ernstige vraagtekens oor die wetenskaplikheid van dié ondersoek. Die syfer van sowat 1 miljoen mense wat daarvolgens na bewering van plase afgesit is, beteken elke boer in die land het sowat 25 mense van sy plaas afgesit.
"Ander praat selfs van 8 miljoen mense wat afgesit is."
Misbruik, diefstal en veiligheidsprobleme is die ondeurdagte gevolge van sulke wilde beweringe.
Wat verblyfsekerheid betref, moet daar groter klem wees op wettige uitsettings en die groter voordeel van eiendomsreg in werkernedersettings weg van die plaas af teenoor blote verblyfreg op die plaas.
Die "voertuig na vrede" vir grondsake die sogenaamde eendoelinstelling (SPV) loop op drie paaie, naamlik restitusie, herverdeling en sekerheid van verblyfreg.
Dit stel 'n private alles-in-een-diens aan begunstigdes voor wat grondoordrag in geheel hanteer om die proses volhoubaar te bestuur.
Wat restitusie betref, klop die somme ten opsigte van vordering nie.
"Dit is nie meer moontlik om restitusie teen Maart volgende jaar af te handel nie. Dit beteken die definisie van 'afhandel' kan verander na iets wat bloot die publikasie van 'n eis beteken.
"Die sowat 8 % van eise wat oorbly, is 90 % van die werk wat nog gedoen moet word. Die moeilikste hiervan is in die noordelike provinsies waar plase wat geëis word, in 'n 'tegniese yskas' beland met geen verligting van die beklemmende uitwerking van die afkondiging in die Staatskoerant nie."
Hy sê die oplossing lê in plaaslike grondeienaarsverenigings met 'n restitusieforum in elke provinsie vir gesprekvoering met amptenare om die proses vinniger afgehandel te kry. Met die dreigement van onteiening moet daar ook dringend gekyk word na werksessies vir regslui om moontlike hofsake vorentoe te hanteer.
Hy meen herverdeling lê groter klem op die volhoubaarheid van die landbou as die blote besit van grond in die restitusieproses. Hy wou egter weet of daar hoegenaamd nog plek is vir herverdeling in provinsies waar restitusie reeds meer as 'n belading van 30 % vereis.
Uit die lesse wat geleer is, blyk dit dat gemeenskapsboerdery nie werk nie. Daar moet eerder gefokus word op vennootskappe met sterk boere.
Sukses lê in "naatlose oordrag" sodat boerderye nie tot stilstand kom nie. Daarvoor is geloofwaardigheid, kundigheid en kapitaal nodig. "Boere wat in elk geval sou uitval, moenie mentors word nie".
Daar is nie meer tyd om toeskouer te wees nie. Dit is tyd om te dóen en 'n gronddatabasis is eerste op die lys. "Neem eienaarskap van die grondkwessie en skep plaaslike forums daarvoor," het hy gesê.
Landbouweekblad, 19 Oktober 2007