Landbou
'Plaaspryse gaan verdubbel'
ANDRIES GOUWS

Die prys van landbougrond in Namibië gaan in die volgende vyf jaar verdubbel weens die verbetering in die netto binnelandse inkomste. Dít is deel van 'n rooskleurige prentjie wat vir die landbou geskilder is op die kongres van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) van Namibië in Windhoek.

Mnr. Oliver Horsthemke, bestuurder van landbou by Eerste Nasionale Bank in Namibië, sê die verwagting is dat landbouprodukpryse op die mediumtermyn beduidend sal styg.

Dié verwagting is daarop gegrond dat die wêreldekonomie sterk gaan groei en die stygende vraag na kos en energie veral in ontwikkelende lande. Nuwe markte gaan ontstaan as gevolg van wette rakende aardverwarming en die soeke na nuwe brandstowwe weens die duur olie. Nuwe tegnologie sal ook 'n bydrae lewer.

Daar word verwag dat graan- en suikerpryse beduidend sal styg, terwyl groente- en vrugtepryse betreklik bestendig sal bly en kan daal. Voer kan goedkoper word namate neweprodukte van biobrandstof beskikbaar raak.

Hoewel boerderyinkomste heelwat wipplank kan ry, sal die winsgewendheid van boerderye op die medium- en lang termyn aanhou verbeter.

Die verhouding tussen boerderyskuld teenoor omset sal na verwagting ook verbeter.

Sy bank sien die landbou as een van die nuwe groeigebiede vir die ekonomie van Namibië en daarom sal hy aangaan om in die landbou te belê, het hy gesê.

Landbouweekblad, 19 Oktober 2007