Die grondwaardasie-rolle wat opgestel is deur die Namibiese ministerie van grondsake en hervestiging waarop grondbelasting betaal moet word vir die termyn 2009 tot 2013, het 'n warm debat op die NLU-kongres tot gevolg gehad, luidens die weeklikse nuusbrief van dié unie.
Afgevaardigdes na die kongres het veral vrae gehad oor die dramatiese styging in die grondwaardes wat in sommige gevalle tot 70% hoër is as die waardasies wat in 2002 gedoen is, asook die groot verskille in die waardasies van aangrensende plase.
'n Ander punt van bekommernis vir die afgevaardigdes was die kriteria wat gebruik word vir die bepaling van die grondwaardes. Teen hierdie agtergrond het die kongres die volgende besluit geneem:
Kongres neem kennis
1. Dat die wyse van waardasie en die kriteria wat gebruik is om die nuwe waardasies te bepaal nie duidelik is nie en in sommiige gevalle onlogies.
2. Dat mnr. Rigava van die ministerie van grond en hervestiging dit duidelik gestel het dat die ministerie toeganklik is vir verdere besprekinge om tevredenheid te kry.
"Derhalwe versoek kongres die uitvoerende raad van die NLU om teen die agtergrond van die besprekings verder onderhandelings te voer met die Ministerie om sekere beginsels en prosedures soos die toepassing van waardering uit te klaar. Hierdie aksie moet as 'n saak van dringendheid deur die UR hanteer word.
"Verder versoek die kongres die UR om hom in staat te stel om sinvol te kan onderhandel en dat daar 'n regsmening ingewin word oor die toepassing van die wet en regulasies met spesifieke verwysing na die proses en geldigheid van waardasie."
15 Oktober 2007