Landbou
Begunstigdes wil bly, nie boer
Deur ISABEL STOLTZ

Boerdery is besig om plek te maak vir behuising op van die beste en duurste landbougrond in Suid-Afrika, blyk uit 'n ondersoek van die Grondeisekommissie na voorgenome gebruike van restitusiegrond.

Altesame 324 geskikte eise was deel van die ondersoek om ontwikkelingsdoelwitte te bepaal. Op 47,2% van die projekte is die huidige gebruik die landbou, op 8,3% is dit behuising en op 8,95% 'n kombinasie van ander gebruike.

Volgens aanduidings gaan van die huidige gebruike afgewyk word ná oordrag. Die landbou gaan volgens begunstigdes se voorkeure op slegs 33 % van die projekte beoefen word - 'n daling van sowat 14 %.

Behuising se rol het verdubbel en sal die enigste gebruik wees op 16 % van die projekte. Mnr. Tozi Gwanya, Hoofgrondeisekommissaris, het op 11 Oktober in Nelspruit in 'n oorsig oor die grondeiseproses gesê sowat 4% van eise sal nie voor die sperdatum afgehandel wees nie weens verskeie probleme.

"Die probleme is aan die Minister verduidelik. Die mikpunt is te hoog. Dit moes hersien gewees het. Maar wat kan so erg wees as 5% nie betyds afgehandel word nie? Dit is nie die kwessie nie. Die hoofsaak is die herstel van grondregte. Die eise sál geskik word." Dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri SA se grondsakekomitee, betwis dit dat slegs 4% eise nie teen Maart 2008 afgehandel sal wees nie. "Volgens statistieke tot ons beskikking sal sowat 30 % van uitstaande eise teen die sperdatum nog nie geskik wees nie weens redes wat niks met grondeienaars te make het nie. "Dit is eise waarvan die eisers nie opgespoor kan word nie; die grond nie geïdentifiseer kan word nie of botsende eise in die Staatskoerant gepubliseer is - in sommige gevalle waar dieselfde grond tot 4 keer met verskillende eise gepubliseer is."

  • Lees die volledige berig in Landbouweekblad van 26 Oktober, wat van Maandag af op straat beskikbaar sal wees.

    17 Oktober 2007