Die hoogste prys wat nog op 'n openbare veiling in Suid-Afrika behaal is, is in Port Elizabeth vir 'n baal fynwol betaal.
Wolpryse het nie net ondanks die sterk rand 'n stewige styging op vandeesweek se veiling getoon nie, die hoogste prys wat nog op 'n openbare veiling in Suid-Afrika behaal is, is vir 'n baal fynwol betaal.
Cape Wools se Merino-aanwyser het met 7,4% verbeter tot R62,35/kg (skoon). Dit is 'n styging van 11% teenoor die openingsveiling en is 50% hoër as dieselfde veiling verlede seisoen.
New England Wool het die rekordprys van R150/kg (vetwol) betaal vir 'n baal van 15,1 mikron van mnr. Mike Palmer, 'n bekende fynwolboer uit die Grahamstad-distrik. Die totale waarde van die baal is R29 978,49.
Die groot prysstyging word toegeskryf aan kommer oor die toekomstige beskikbaarheid van wol in die lig van die voortslepende droogte in Australië en die heruitreiking van die ongebruikte wolkwota's aan Chinese kopers. In Australië het die mark ondanks 'n sterk geldeenheid met 5% gestyg.
Die pryse van alle Merino langwoltipes het met tussen 7% en 8% versterk.
Gemiddelde prysbewegings van AWEX-tipes MF3, MF4 en MF5 van 70 mm en 80 mm was soos volg: 19 mikron was 8% duurder op R75,67/kg; 20 mikron styg met 6,8% tot R67,45/kg, 21 mikron verstewig met 6,7% tot R62,92/kg, 22 mikron was 8,7% duurder op R61,40/kg en 23 mikron verstewig met 6% tot R58,50/kg. Daar was geen kwotasies vir 24 en 25 mikron nie.
Sowat 9 000 bale sal volgende week aangebied word.
18 Oktober 2007