Ons moet erken dat daar 'n ernstige uitsettingsprobleem bestaan. Só het die Minister van Landbou en Grondsake, me. Lulu Xingwana tydens 'n onlangse vergadering met die landbou-unies Agri SA, TLU SA en NAFU SA en FAWU, gesê.
In plaas daarvan om uitsettings as "wettig" of "onwettig" te klassifiseer, het die Minister woorde soos "formeel" en "informeel" gebruik. Sy het ook gevra dat unies saamwerk om alle uitsettings te staak tot tyd en wyl gebeurlikheidsplanne geímplementeer word.
Die proaktiewe grondverkrygingstrategie was ook in die kollig by die vergadering. Dié strategie, wat gebruik sal word om vyf miljoen hektaar grond aan te koop vir die vestiging van plaasbewoners en uitgesettenes, sal in aanvang neem by twee brandpunte - KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap.
Die moontlike totstandkoming van 'n landbou-adviesforum is ook by die vergadering bespreek. Só 'n forum sal bestaan uit die hoof uitvoerende beamptes van die betrokke departemente, landbou-unies en ander tersaaklike organisasies. Die doel van die forum is gereelde gesprekke om saam oplossings te kry vir sleutelprobleme. Hoe die forum sal funksioneer, is nog onduidelik.
18 Oktober 2007