Sowat R350 miljoen is in die vyf maande tussen April en Augustus 2007 uitbetaal aan begunstigdes van die restitusieproses wat geld bó grond verkies.
Sedert 1995 het die Grondeisekommissie R4,5 miljard in vergoeding uitbetaal en sowat R5 miljard bestee om grond te koop.
Mnr. Tozi Gwanya, hoofgrondeisekommissaris, sê in 'n verklaring 'n groot getal eise vir geldelike vergoeding is reeds geteken, maar word weens 'n gebrek aan geskikte uitbetaalpunte vertraag.
Die Departement van Grondsake het nou 'n agentskapooreenkoms met die Poskantoor se Posbank aangegaan in 'n poging om uitbetalings in veral verafgeleë gebiede te vergemaklik en sodoende die proses te verhaas om die afsnypunt volgende jaar te haal.
Volgens Gwanya was ander finansiële instellings nie te vinde vir die omslagtige taak nie omdat talle van die begunstigdes nie bankrekeninge het nie.
Begunstigdes sal bewysstukke ontvang wat vir betaling aangebied kan word. Die Posbank het onderneem om begunstigdes in die bank se belegginsgeleenthede te onderrig.
Die ooreenkoms tree aanvanklik in KwaZulu-Natal en Noordwes in werking, maar sal waarskynlik binnekort landwyd ingestel word.
Volgens die verklaring is sowat 93 % (74 500) van alle restitusie-eise (79 696) afgehandel. Sowat 80 % hiervan was in stedelike gebiede waar eisers meestal geld verkies het.
Van die 20 % landelike eise het die meeste eisers verkies dat grondregte herstel word, terwyl 'n aantal gemeenskappe 'n kombinasie van grond en geldelike vergoeding verkies het.
Landbouweekblad, 26 Oktober 2007