Die feit dat min grondtransaksies in die vrye mark in Namibië plaasvind, trek die produksiewaarde van plase heeltemal uit proporsie, sê mnr. Raimar von Hase, voorsitter van die Namibiese Landbou-unie.
Die Namibiese Landbou-unie het daarom 'n groot behoefte om met dié land se departement van grondsake en hervestiging te onderhandel om ook die produksiewaarde van die grond in die wet te vervat.
'n Nuwe waardasielys is in September deur die departement vrygestel wat die grondslag vorm vir die berekening van grondbelasting. In die algemeen is die styging in die waarde van onverbeterde grond in pas met die inflasiekoers, maar in sommige gevalle het dit met tot 70 % gestyg.
Daar word weliswaar voorsiening gemaak dat die markwaarde van die grond 'n rol sal speel in die vasstelling van grondwaardes, maar dit is so dat baie min vryemarktransaksies plaasvind wat die pryse totaal verwring.
Landbouweekblad, 26 Oktober 2007