Die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) is nie uitgedien as organisasie nie. Hy moet egter sy hand in eie boesem steek en aanpas om dié bedryf in veranderende tye sinvol te bly bedien.
Só het afgevaardigdes besluit nadat 'n voorstel ingedien is dat die LPO deur 'n nuwe organisasie onder die sambreel van die Vleisraad, maar met 'n breë produsentebasis, vervang moet word.
Die motivering hiervoor was dat daar toenemende verdeeldheid onder produsente, belangegroepe en die owerheid is, die huidige strukture 'n beperkte vermoë vir samewerking het en 'n sterk instelling nodig is om alle vleissake van nasionale belang in 'n verenigde front te hanteer.
Die afgevaardigdes het nie kans gesien nie om hul sake aan die Vleisraad ondergeskik aan die minister van landbou, water en bosbou oor te gee nie, maar toegegee dat daar tekortkominge kan wees.
Daar is besluit dat die LPO in sy huidige identiteit moet bly voortbestaan as die verteenwoordigende organisasie van kommersiële veeboere van Namibië.
Die LPO-bestuur is versoek om sy beeld en handelswyse aan te pas by die dinamiek van die bedryf en om met positiewe voorstelle te kom wat die organisasie doeltreffender en gebruikersvriendeliker sal maak.
Landbouweekblad, 26 Oktober 2007