Landbou
AgriSEB moet gaan oor wins
NICO VAN BURICK

Deelname aan swart ekonomiese bemagtiging in die landbou (AgriSEB) moet vir boere gaan oor wins. As dit nie geld gaan inbring nie, moet hulle ál die prosesse met assessors en konsultante laat vaar en voortgaan om te bemagtig soos in die verlede.

Dr. Tobias Doyer, voorsitter van die span wat die AgriSEB-handves opgestel het, het op Agri SA se kongres in Boksburg gesê boere is lank reeds besig met AgriSEB danksy aspekte soos vaardigheidsontwikkelingings en maatskaplike ontwikkeling. Hulle kan voortgaan om byvoorbeeld deur opleiding sterk potensiële vennote in die toekoms te bou.

Hy sê dat bemagtiging 'n vrywillige proses is, maar dat belangrike aspekte, soos regeringsverkryging, voorkeuraankope en lisensiëring, daardeur bepaal sal word. Elke boer moet AgriSEB bestudeer en bepaal wat die invloed daarvan op hom of haar sal wees.

Tans is die voorgestelde afsnypunt vir boerderye wat aan al die vereistes moet voldoen, dié met 'n jaarlikse omset van R35 miljoen. Boerderye met 'n omset van R5 miljoen tot R35 miljoen moet aan vier van die sewe elemente voldoen en boerderye met 'n kleiner jaarlikse omset as R5 miljoen word vrygestel. Hierdie mikpunte word egter nog hersien.

Van die uitdagings om AgriSEB te laat slaag, is ekonomiese groei, grondhervorming, vaardighede, volhoubaarheid en administrasie. Doyer sê as die ekonomie teen 6 % groei, verdubbel dit in tien jaar en dan hoef boere net die helfte van hul groei te deel om 'n bemagtigingsmikpunt van 25 % te haal. Groei dit net teen 3 %, moet 75 % van die groei afgestaan word.

Met grond is die probleem dat dit nie kan groei nie. Dit is net bestaande grond wat van hande kan verwissel. Wat die breë basis betref help dit niks as net 'n klein groep baat vind en die rasstryd met 'n klasstryd vervang word nie. Verder is daar 'n vaardigheidstekort, kommer oor volhoubaarheid en kommer omdat die administrasiekoste hoog gaan wees.

Landbouweekblad, 26 Oktober 2007