Die Suid-Afrikaanse landboubedryf moet sy plaaslike markte uitbrei en dit het tyd geword om die potensiële markte binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) te ontdek en te ontgin.
Dr. Tobias Doyer, nuwe hoof van landboubesigheid by Santam, het by Katoen SA se toekenningsgeleentheid in Pretoria gesê die werklikheid van internasionale landbousubsidies sal nog lank met ons wees. Daar is geweldige potensiaal vir uitvoere noord van ons.
Doyer, wat die genooide spreker was, het gesê die verskuiwing van produkte is egter 'n groot uitdaging wat oorkom moet word. Benewens slegte paaie en hoë vervoerkoste is daar ook te veel rompslomp. Dit duur sowat 32 ure om 'n vrag goedere deur die grenspos by Beitbrug te kry.
Om suksesvol te wees moet boere ook pro-aktief en op innoverende maniere waarde tot hulle produkte toevoeg. Hulpmiddels soos 'n katoenmerk moet ten volle benut word en daar moet maniere gevind word om die verbruiker se oog te vang.
Vanjaar se Kommersiële Boer van die Jaar is mnr. Willie Maree van Wilkot-boerdery by Marydale in die Noord-Kaap en mnr. Frans Malela van Moutse-Oos in Mpumalanga is vanjaar se Kleinskaalse Katoenprodusent van die Jaar.
Van die kategorie-wenners in die tekstielbedryf was Cargill RSA, Pluismeulenaar van die Jaar, Frame Spinning Mills van Durban is die Spinner van die Jaar, SBH Cotten Mills is Wewer van die Jaar en Woolworths in Kaapstad, Kleinhandelaar van die Jaar.
23 Oktober 2007