Landbou
Veediewe gierig, nie honger


Veediefstal het boere R327 676 500 gekos vanaf 1 April verlede jaar tot 31 Maart vanjaar. Dié is egter slegs amptelike syfers. Die werklike veediefstalsyfers kan tot 30 % hoër wees, sê die nasionale veediefstalforum in 'n verklaring.

Volgens die forum word 'n beduidende getal voorvalle nie aangemeld nie weens 'n gebrek aan vertroue in die SA Polisiediens en die strafregstelsel.

Opkomende boere loop die ergste onder veediewe deur met krale wat letterlik leeggemaak word. Vir elke voorval van veediefstal op 'n kommersiële plaas, word drie keer by opkomende boere toegeslaan.

"Dit is lankal nie meer 'n geval van potslagting nie. Misdadige sindikate is op groot skaal betrokke. Veediefstal het 'n sakeonderneming geword," sê mnr. Herman de Wet van die forum in 'n memorandum.

In KwaZulu-Natal is 7 500 veediefstalsake in 2006 aangemeld. Daarvan is 850 na die howe verwys en 326 sake suksesvol vervolg. Dit verteenwoordig 'n suksessyfer van 4,1 % wat waarskynlik ook in ander provinsies geld, sê die forum.

Die forum meen 'n deel van die probleem lê by die sluiting van die kommando's en die onttrekking van troepe van die Lesotho-grens "wat veeboerdery in sommige gebiede onmoontlik maak".

Die Demokratiese Alliansie het in 'n verklaring ook gewys op die veiligheidsleemte wat in landelike gebiede ontstaan het ná die sluiting van die kommando's. Dié politieke party wou van die Minister van Verdediging weet of daar 'n moontlikheid is dat dié besluit heroorweeg kan word.

Die forum meen swaarder strawwe by skuldigbevinding moet deur wetgewing moontlik gemaak word en borg en parool aan veediewe moet heroorweeg word.

Die forum het ook versoek dat die skutwet wat al etlike jare sloer, dringend afgehandel word.

Tydens die onlangse vergadering van die presidensiële landbouwerkgroep is besluite bevestig dat veediefstaleenhede behou en uitgebrei sal word en dat elektroniese waarnemingstoerusting op landsgrense ontplooi sal word. Meer reserviste sal ook by veediefstal betrek word.

Landbouweekblad, 2 November 2007