Die Regering ís besig met 'n opbouende gesprek met die georganiseerde landbou, het mnr. Dirk du Toit, Adjunkminister van Landbou en Grondsake, aan Landbouweekblad gesê na aanleiding van die herrie wat losgebars het oor sy omstrede uitlatings in die Sondagkoerant Rapport.
In die Rapport-onderhoud het dit voorgekom of daar 'n breuk tussen die Regering en Agri SA is. Landbouweekblad het toe 'n reeks vrae per e-pos (berig op bl. 78) aan Du Toit gestuur, waarna hy die tydskrif persoonlik teruggebel het.
Hoewel hy duidelik probeer vure doodslaan het ná sy gewraakte uitlatings, was hy huiwerig om reguit op die vrae te antwoord .
"Jy vra my hier 'n paar pertinente vrae. Jy weet tog goed, dis goed gerapporteer dat daar 'n adviesraad kom. Ons het saam met die landbou-unies gepraat en dit sal nie reg wees as ek nou hier allerhande antwoorde gee op jou vrae nie."
Op 'n vraag of 'n opbouende gesprek tussen die georganiseerde landbou en die Regering nog moontlik is, het Du Toit geantwoord: "My magtag, ons is besig met 'n konstruktiewe gesprek, so ek dink nie ek moet nou vir jou 'n klomp antwoorde gaan gee nie."
"Daar is net een ding wat ek moet regstel, hierdie stellings wat in Rapport gemaak is oor Agri SA se verteenwoordiging. Agri SA het mos nie direkte lede nie, hulle het geassosieerde lidmaatskap. Dis maar al punt wat ek daar probeer maak het."
Du Toit sê hy wag nog altyd vir 'n antwoord op die vraag wat hy gevra het oor die wese van regte van plaasbewoners, "en dit gaan ons mos nou in die advieskomitee kry".
"Ek dink nie dit is billik van my om kommentaar te lewer totdat hierdie advieskomitee die geleentheid gehad om met die konstruktiewe gesprek, soos jy dit mooi stel, voort te gaan nie."
Op 'n opmerking deur Landbouweekblad dat boere in 13 jaar van demokrasie waarskynlik nog nooit so keelvol was oor die klappe wat die Regering voortdurend na hulle uitdeel nie, het Du Toit gesê: "Ek neem kennis daarvan, maar ek gaan nie nou reageer nie. Ek gaan nie die saak in die pers bespreek nie, daar is 'n gesprek wat aan die gang is."
Op 'n stelling dat dit lyk of die Regering en die georganiseerde landbou voortdurend met mekaar stoei, het hy gesê dit is nie waar nie, die bedryf gaan vooruit. "As ons oor die bedryf moet praat, is daar 'n helse groot toekoms vir landbou."
"Moenie dit verkeerd interpreteer nie, jy moet gevolg gee aan artikel 25 (die eiendomsklousule) van die Grondwet, en jy moet presies weet wat sê hy, want die Grondwet is die borg. Dit is wat ons moet verwesenlik.
"Die gesprek is belangrik dat ons mekaar regtig verstaan":
. Dit help nie om nie by die punt uit te kom nie, almal van ons probeer daar uitkom. Ons moet net reguit met mekaar praat. Soms vind ek die TLU SA praat baie reguit en ons moet dit almal doen. 'n Mens moet ook nooit oorgaan na persoonlike aanvalle nie."
Landbouweekblad, 2 November 2007