Landbou
Organiese bedryf ontgroei staat
JEAN-MARIE DE WAAL

Die staat behoort organiese boerdery in Suid-Afrika op 'n veel groter skaal te ondersteun as wat tans die geval is. Die probleem is egter dat die Regering en die Departement van Landbou min oor dié bedryf verstaan, terwyl ander lande gevorderde organiese spronge gee, het leiers in die organiese bedryf in Kaapstad gesê.

Tydens die Natuurlike en Organiese Produkte-ekspo in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) het aan dit lig gekom dat die plaaslike organiese bedryf jaarliks met 100 % groei.

Suid-Afrika staan by 'n kruispad oor wat gedoen kan word om volhoubare opkomende boere te vestig. Leiers in die organiese bedryf meen dié soort boerdery is 'n goeie antwoord. Hulle meen ekologiese volhoubaarheid kan ook met organiese boerderye bestuur word, aangesien dit minder water as tradisionele boerderye gebruik.

"Dit is moeilik in Suid-Afrika, want die intellektuele mense in die landbou het nog nie die denkskuif in die rigting van organiese boerdery gemaak nie," het me. Jenny Slabber van Talborne Organics gesê.

Slabber sê die grootste probleem met die landbou in Suid-Afrika is al die politiek. "Die formele landbousektor versleg net en as dit nie was vir die pioniers in Suid-Afrika nie, sou die organiese bedryf lankal verdwyn het."

Mnr. David Wolstenholme, direkteur van die ekspo, sê die staat moet organiese boerdery op 'n groot skaal begin ondersteun, want dit het die vermoë om meer werk te skep as wat die tradisionele landbou tans kan regkry.

Verbruikers vat 'n blaaskans by 'n kleinhandelaar se organiese uitstalling.

'n Paneelbespreking besin oor die groei van die organiese bedryf. Van links, Ainsley Moos, Adjunkredakteur van Landbouweekblad, mnr. David Wolstenholme, direkteur van die Natuurlike en Organiese produkte ekspo, me. Jenny Slabber van Talborne Organics, mnr. Mike Prevost van Elgin Organics en mnr. Francois Visser, Alpine Organics.

Iets van alles by die organiese ekspo — selfs omgewingsvriendelike babadoeke.

Organiese produkte vir medisinale gebruik was gewild.

Landbouweekblad, 2 November 2007