Landbou
'Moenie aan onkundige minister steur nie'
Deur CHRIS JOOSTE

Die landbou het nog nie voorheen 'n minister gehad wat só min van die landbou weet soos die Adjunk-minister van Landbou, mnr. Dirk du Toit nie. Daarom behoort landbouleiers en boere hulle nie aan sy omstrede uitlatings te steur nie.

Mnr. Pieter Möller, uitgetrede hoofbestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sê hy kan dit sê, want hy staan nou buite die landbou. "Van die apartheidsjare tot nou het ons nog nooit 'n minister gehad wat só min van die landbou weet nie en wat só uit sy pad gaan om boere in die gesig te klap nie."

Hy is deeglik bewus van die gehaltetyd wat landbouleiers bestee aan ontwikkeling, versoening en ontginning van mense. Daar is soveel positiewe aspekte en dan "kry jy sulke uitlatings deur iemand wat veronderstel is om jou adjunk-minister te wees". Hy was geskok oor Du Toit se beskuldigings van etniese suiwering deur boere.

"Die landbou het nou sy Rubicon bereik. Die leiers moet die leisels vashou om die mense positief te hou. Die landbou is die hart van elke plattelandse gemeenskap. As die landbou seerkry, kry almal seer, plaaswerkers en die mense in die swart woonbuurte ingesluit. "

26 Oktober 2007