Die wenner van die laerskole-afdeling in Senwes se entrepreneurskompetisie vir laer- en hoërskool-leerlinge is onlangs in Bloemfontein aangekondig. Die 12 hoërskool-finaliste het tydens die geleentheid R1 500 ontvang om hul besigheidsplanne te implementeer.
Rudo Peens van die Laerskool Sand du Plessis was die gelukkige wenner van R10 000 vir sy besigheidsidee wat bekend staan as "Kaktus karakters". Hy span kaktus-ontwerpe op verskillende interessante maniere in, soos onder andere vir sleutelringe. Dié blink idee van die jong Bloemfonteiner het stof in die oë van bykans 500 ander besigheidsplanne geskop.
Jan Coetzee, Senwes se assistent hoofbestuurder: Kleinhandel het tydens die geleentheid gesê entrepreneurskap is iets wat 'n mens van kleins af leer. Dáárom is dit vir Senwes belangrik om deel te wees van die projek.
Senwes se entrepreneurskompetisie bestaan uit twee afdelings, 'n laerskole-afdeling en hoërskole-afdeling, en word in twee fases aangebied. Die eerste fase sluit die voorlê van 'n besigheidsplan en 'n onderhoud waar vrae oor entrepreneurskap gevra word, in. Die besigheidsplanne word dan deur die Universiteit van die Vrystaat se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe beoordeel. Aan die einde van die eerste fase word die wenner van die laerskole-afdeling aangewys en die finaliste van die hoërskole-afdeling aangekondig.
Laerskool Jim Fouché en Hoërskool Fichardtpark het vanjaar gespog met die meeste inskrywings in die onderskeie afdelings en het elk R10 000 gewen.
Die wenner van die hoërskole-afdeling sal vroeg in 2008 aangekondig word. Dié gelukkige jong entrepreneur wen 'n studiebeurs van die Universiteit van die Vrystaat, ter waarde van R100 000.
1 November 2007