Landbou
Geld vir grond 'min'
JEAN-MARIE DE WAAL

Die gesamentlike R5,4 miljard vir grondhervorming en restitusie wat in Minister Trevor Manuel se aansuiweringsbegroting bekend gemaak is, is ver van die R40 miljard waarvoor die Departement van Grondsake vir grondaankope en restitusie gevra het.

Dít te midde van 'n toenemende dringendheid om grondhervorming te versnel.

Die Departement van Landbou se toekenning vir die boekjaar 2007/'08 staan op sowat R3,5 miljard — 'n aanpassing van meer as R488 miljoen. Ná die aansuiweringsbegroting, is sowat R6 miljard vir dieselfde boekjaar vir die Departement van Grondsake bestem — sowat R250 miljoen meer as die aanvanklike toekenning.

Die toekenning van sowat R650 miljoen vir rampe (brande, vloede en droogtes) in die landbou is 'n teken dat President Thabo Mbeki se klem sedert die begin van 2007 van 'n landbougedrewe ekonomie wel in Manuel se agterkop speel.

Manuel het die Presidensiële voorrangsake in ag geneem, maar mikpunte sal nie behaal kan word met "steeds te min" geld vir grondhervorming nie. Botha beklemtoon die geld wat wel vir grondhervorming toegestaan is, kan steeds heelwat grond koop al voel beamptes hulle moet wonderwerke met te min geld verrig. Kwessies van onvermoë en burokrasie is dikwels eerder die onmiddellike probleem.

Landbouweekblad, 9 November 2007