Landbou
Uitvoer-onsekerheid bly knaag
ISABEL STOLZ, JEAN-MARIE DE WAAL en AINSLEY MOOS

Belanghebbendes in die landbou is ernstig bekommerd oor die voortdurende swaard wat oor Suid-Afrika se uitvoere na die Europese Unie (EU) hang. Verskeie plaaslike landboubedrywe is verlede week in onsekerheid gedompel ná dit geblyk het dat hul uitvoerstatus vir diereprodukte in die gedrang is.

Die EU is van voorneme om alle invoer van Suid-Afrikaanse diereprodukte te beëindig.

In 'n poging om die uitvoerstatus van verskeie produkte na die EU te verseker, is daar sprake van 'n regsaksie vir skadevergoeding van R500 miljoen teen die departement as die uitvoer in die slag bly.

Dit volg nadat die Regering nie die uitvoer-vereistes van die EU vir die soveelste keer glo nie nagekom het nie. Bewerings doen die ronde oor die departement se onvermoë en "slap" hantering van ooreengekome uitvoervereistes.

Mnr. Masiphula Mbongwa, direkteur-generaal van landbou, het egter verseker dat daar geen rede tot paniek is nie. Hy sê 'n proses word steeds gevolg om te verseker dat die uitvoer na die EU wel geskied.

In 'n verklaring sê die departement hy het nog geen amptelike korrespondensie van die EU ontvang om sekere produkte van die uitvoerlys te verwyder nie. "Ons weet nie vanwaar die inligting kom nie," het me. Tsotso Sehoole, hoofdirekteur van kommunikasie by die departement, gesê.

Die staat moes teen 31 Oktober op die EU se bekommernisse ten opsigte van verskeie veiligheidstandaarde antwoord. Teen druktyd was dit nie bekend of die departement gehoor kon gee aan die vereistes wat die EU sedert 2003 herhaaldelik aanvra nie.

Volgens ingeligte bronne is die uitvoer van wilds- en volstruisvleis in die gedrang en die skuld vir die jongste uitvoerdebakel word uit alle oorde voor die staat se deur geplaas.

Die departement word van "growwe nalatigheid" beskuldig weens 'n beweerde versuim om die residu-moniteringsprogram vir uitvoervleis vol te hou.

Landbouweekblad, 9 November 2007