Landbou
Klein Karoo verby R1 miljard
LUCILLE BOTHA

Hoewel volstruisvleis net vyf maande lank uitgevoer kon word, het dié produk die Klein Karoo-groep op Oudtshoorn 'n hupstoot gegee om vir die eerste keer hul omset oor die kerf van R1 miljard te druk.

Dié groep se finansiële resultate is verlede week bekend gemaak.

Die maatskappy het 'n netto wins (voor belasting) van R25,6 miljoen getoon. Dit is 'n verbetering van bykans R5 miljoen teenoor die vorige boekjaar.

Sowat R18 miljoen is aan produsente uitbetaal.

Volgens mnr. Piet Kleyn, voorsitter van die direksie, het volstruisboere se bruto-inkomste aansienlik gestyg, hoewel volstruisproduksie daal en minder voëls as in die vorige jaar geslag is.

Mnr. Kobus Goosen, hoof uitvoerende bestuurder van Klein Karoo se vleisbemarking, sê vleisvooruitsigte lyk goed.

"Die verwagting is dat die afgelope paar jaar se probleme met die uitvoer van vleis na die Europese Unie nou bevredigend opgelos is."

Klein Karoo Saad het egter die wind van voor gehad. Produksiegebiede reg oor die wêreld word deur 'n tekort aan sekere groentesaad in die oë gestaar.

Saadbedrywighede het 'n verlies getoon weens internasionale klimatologiese toestande wat alle mense in die sektor raak.

Landbouweekblad, 16 November 2007