Landbou
Vleisuitvoer wink
Deur ISABEL STOLTZ

Suid-Afrika werk hard aan 'n protokol vir die uitvoer van natuurlik geproduseerde beesvleis na die EU, sê mnr. Manie Booysen, hoof uitvoerende beampte van Samic.

Hy sê die protokol is reeds in beginsel goedgekeur en die land is gretig om uitvoere te hervat sodra die EU goedkeuring verleen aan plase en slagpale wat aan die nodige vereistes voldoen.

Sedert die uitvoer van beesvleis na die EU opgeskort is weens die gebruik van groeistimulante is primêre beesvleissnitte net na Switzerland uitgevoer wat nie 'n lid van die EU was nie. Dié uitvoere kom ná Desember vanjaar tot 'n einde wanneer Switzerland by die Europese Unie aansluit. Verlede jaar is 11.7t uitgevoer.

Mnr. Petrus van Heerden, besturende direkteur van African Premium Red Meat, 'n vleismaatskappy wat onlangs tot stand gekom het met die doel om vleis van die veld af te produseer en te bemark as omgewing/eko-vriendelike produk, sê as 'n goeie uitvoermark geskep word, sal beslis daarna gekyk word.

Volgens Van Heerden is African Premium Red Meat reeds besig om met die kleinhandel te onderhandel vir kontrakte en sal handelsmerke gevestig word wat konsentreer op vleisveiligheid.

Die maatskappy se uitgangspunt is dat produsente "weer die eienaar van die karkas word" en wegbeweeg van die huidige situasie met hoofsaaklik een waardeketting en bemarkingskanaal wat deur voerkrale oorheers word.

"Die maatskappy gaan vleis in 'n nuwe waardeketting op 'n kollektiewe basis bemark deur 'n oop kommunikasiekanaal tussen verbruiker, produsent, die kleinhandel en verwerkers.

Volgens Van Heerden is daar plaaslik 'n behoefte vir vleisprodukte wat op natuurlike weidings geproduseer is "en ons gaan die geleentheid aangryp. As dit egter blyk dat uitvoer vir die produsent die lonendste is, is dit waar die mark ontgin sal word."

  • Kontak Petrus van Heerden by petrus@aprm.co.za

    14 November 2007