"Die uitkoms van die Mededingingskommissie se bevindinge oor die samespanning in die bak- en koringmaalbedryf is nie 'n verrassing nie", sê mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA.
"Indien die aanbevelings van die kommissie deur die Mededingingstribunaal bekragtig word en verdere klagtes van samespanning deur die groot voedselgroepe bevestig word, kom dit op blatante uitbuiting van die res van die koringwaardeketting neer. Graan SA verwelkom dus die toepassing van erkende meganismes wat nou aangewend is om nie-mededingende sakepraktyke aan die kaak te stel en ondersteun uiteraard die deurvoer van die regsprosesse wat daarmee verband hou."
Ferreira sê verder dat die deregulering van koringbemarking die bak- en maalbedrywe, as gevolg van die struktuur van die koringbedryf sedert 1997 in 'n sterk mededingingsposisie geplaas het. Die vier groot groepe beheer 90% en meer van die koringmaalaktiwiteite en ook 'n baie groot persentasie van die bak-aktiwiteite in Suid-Afrika.
"Dit is daarom teleurstellend dat hierdie magsposisie selfs verder gevoer is deur samespanning, trouens deur prysbinding as strategie aan te neem, is onbekostigbare oneffektiwiteit deel gemaak van die waardeketting. Onbehoorlike praktykvoering soos hierdie kom neer op magsmisbruik en 'n eensydige wegdoen met normale dissiplines wat normaalweg binne 'n mededingende mark bestaan.
"Wat die effek daarvan op die totale koringbedryf was is moeilik om te kwantifiseer. Die kommissie se ondersoek word positief ervaar in die sin dat die balans in die bedryf nou herstel behoort te word.
"Graan SA is nie van plan om in 'n heksejag betrokke te raak nie, maar ondersteun die spoedige en professionele beslegting van hierdie onaanvaarbare situasie. Entiteite wat nou betrokke en uitgewys en geïmpliseer word is noodsaaklike skakels in die waardeketting en graanprodusente se enigste direkte kontak met eindverbruikers. Dié produsente is voorstanders van die vrye mark en kan insgelyks ook nie die beeldskade wat uit sulke onbehoorlike praktykvoering mag voortspruit, bekostig nie.
Graan Suid-Afrika het ook vroeër dié jaar in opdrag van sy kongres die Nasionale Bemarkingsraad en die Mededingingskommissie versoek om 'n deeglike studie te doen oor aspekte van die huidige markmeganisme wat tans vir grane, en meer spesifiek koring, in Suid-Afrika geld.
Die rol wat SAFEX-kontrakte in prysvorming speel asook sekere vraagstukke oor kwaliteit is van die aspekte wat ondersoek word.
"Terugvoer vanaf die twee instellings word eersdaags verwag", het Ferreira gesê.
15 November 2007