Die bekommernis dat die Europese Unie die uitvoer van belangrike diereprodukte vanaf Suid-Afrika kan staak, is ongegrond. Boere maak onnodig alarm, en die situasie is nou so erg dat pres. Thabo Mbeki by me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, wil weet wat aangaan.
Só sê mnr. Masiphula Mbongwa, direkteur-generaal van Landbou. Mbongwa het pas in 'n onderhoud met Landbouweekblad uit Rome, waar hy tans die Wêreld Voedsel en Landbou-organisasie besoek, gesê sy departement doen alles in hul vermoë om Suid-Afrika se uitvoerstatus te behou.
Intussen kritiseer hy bedryfsorganisasies wat deur 'n moontlike uitvoer-verbod geraak kan oor hul uitsprake in die media. Hy maan dat hulle moet wag vir amptelike kommunikasie vanaf die EU.
Volgens hom volg sy departement die plan wat met die EU ooreengekom is om te verseker dat Suid-Afrika aan al die uitvoer-vereistes voldoen. Hy sê die regering sal groter duidelikheid hê wanneer 'n EU-afvaardiging Suid-Afrika later vandeesmaand of vroeg in Desember besoek.
Intussen onderneem hy om met sy terugkeer vergaderings met die bedrywe te belê wat geraak word.
15 November 2007